Volgende op omvattende openbare deelname en etlike jare waarin ingewikkelde uitdagings die hoof gebied moes word wat verskeie wysigings aan die terreinplanne genoodsaak het, is die Ekosentrum by Stony Point nou uiteindelik slaggereed om die projek se voorgenome voordele aan bedreigde seevoëls, toeriste, die Bettysbaai-bootklub en die Mooiuitsig-gemeenskapstrust – houers van die kommersiële regte op die bestuur van die koffiewinkel en ekosentrum – te bied.
By die amptelike bekendstelling op Vrydag 10 April 2015, het Burgemeester Nicolette Botha-Guthrie die projekbestuurders, Casidra, geloof vir die suksesvolle integrasie van die oorblywende ruïnes van die ou walvisstasie, die radarstasie uit die Tweede Wêreldoorlog en die munisipale werkswinkel en store in 'n toerisme-aantreklikheid en natuurbewaringsarea.
Met behulp van befondsing komende van die uitgebreide-openbarewerkeprogram, het die Wes-Kaapse Departement van Toerisme die oprigting van 'n tematiese besoekerinligtingsentrum, 'n teekamer en erfenisterrein wat oor die geskiedenis van walvisjag handel by die Stony Point Ekosentrum gefasiliteer.
In sy toespraak het die LUR vir Toerisme, Derek Hanekom, belanghebbers aangemoedig om aan te hou om soortgelyke projekte na te streef wat werksgeleenthede skep en help om 'n lewendige, billike en volhoubare toerisme-ekonomie tot voordeel van die plaaslike gemeenskap te ontwikkel.