Oom Jan se kos

Oom Jan se kos

Gansbaai Courant

Is dit net in Suid-Afrika dat gasvryheid aan kos gemeet word, of is eetgoed ‘n gemeenskaplike element van byeenkoms reg oor die wêreld?  Is ons nie totaal en al te behep met dit wat by ons monde ingaan nie?  Kos is veronderstel om voedsel te wees, met genoeg van elke voedselgroep om die mens se gesondheid te verseker. Proteiene om weefsel te bou; koolhidrate om warm te hou; vet om die skarniere te olie; suiwel om die geraamte te versterk en groente en vrugte om die hele lot te stabiliseer.  Maar wat maak ons?  Ons eet vir alles. As daar ‘n geleentheid is, dan eet ons en as daar nie ‘n geleentheid is nie, maak ons van eet een. ‘n Baba kan nie gebore word sonder dat ons eet nie; ook nie gedoop word, verjaar of aangeneem word nie. 

Lanklaas-vriende word verwelkom met kos; die tydsbestuur van hul kuier word beheer deur die voorbereiding van etes en die afskeid behels ‘n overdaad maaltyd. ‘n Bruilof gaan – verstaanbaar - gepaard met ‘n  feesmaal, maar is dit regtig nodig om van ‘n begrafnis ‘n fyngebak spektakel te maak?  Hoe groter van aansien die oorlye persoon, hoe groter die kompetisie tussen verenigings en baasbaksters om hul skou-produkte op lanfer-bedekte tafels uit te stal. Gaan staan gerus eendag op die galery van ‘n kerksaal en hou die dinamika van so ‘n na-begrafnis-byeenkoms dop. Driekwart van die roubeklaers kom nie naby die treurendes om te simpatiseer nie; hul gulsige oë is met die inkomslag net op die kreunende tafels gerig.  

Al wat nog kort is ‘n kroeg om van ‘n begrafnis ‘n onvergeetlike partytjie te maak. Waar daar drank saam met die kos bedien word,  is ons éérs in ons noppies! Dis asof ons regtig geen ander manier van vermaaklike samesyn ken as om te eet en te drink nie. Wat het geword van kaartspeel, musiekmaak en sing, bordspeletjies, stories vertel en veerpyltjiespeel? Wanneer is Monopoly, Trivial Pursuit en Scrabble gedegradeer tot kinderspeletjies?  Myns insiens het dit te doen met die onvermoë om as volwassenes nog te kan speel. Ons het onsself tot slagoffers laat slaan deur eksterne omstandighede – waaraan ons in elk geval niks kan doen nie. Omdat ons geïntimideer en gefrustreerd voel, aanvaar ons kos en drank as die enigste susmiddel. Hoe hoër die lewenskoste styg en hoe meer ons daaroor mor en kla, soveel te meer wend ons ons na juis daardie kommoditeite wat ons beursies beroof.  “Kom eet vanaand by ons” is lankal nie meer goedkoop nie. Die gasvrou trap baie maklik in die slagyster deur iets nuuts te probeer, met bestanddele wat sy nie normaalweg in haar koskas het nie. Dit laat ons goed voel om ‘n slag iets Frans of Oosters voor te sit, met ‘n Duitse of Hollandse nagereg. Dit...is Jan van Riebeeck se skuld. As hy nie so gulsig was om met drie skepe vol mense hier te kom plak, huise te bou en tuine uit te lê nie, kon die paar van ons wat afgestam het van die wat wel besluit het om vrou of man te vat onder die nomades wat reeds hier was, heel gesond geleef het van vleis en veldkos.  Ek is seker daar sou ‘n paar perskepitte in die Kaapse grond wasdom bereik het sodat ons darem vrugte ook kon inkry. Maar nee, toe kom vat Jan mos oor en bring slawe oor die see met al hulle nuwe eetgewoontes. En om dinge te vererger, laat Willem Adriaan van der Stel ook nog ‘n klomp volksvreemde immigrante inkom met ook hul eie kosvoorkeure en wingerdstokke. So sit ons nou hier in die Suiderland en ons eet en drink ons buite weste aan ‘n konglomerasies van kosinvloede. Laat ons ook nie vergeet van die Spanjaarde wat reeds voor Jan hier was nie en om die kersie op die koek te sit, tree die Japannese en Chinese ook oor ons eetkamer se drumpels.  Eintlik, as ‘n mens polities wil raak oor kos, lyk dit my asof ons geensins kan roem op eg-Suid-Afrikaanse kos nie, want behalwe skeep-en beesvleis en uintjies, kom al die ander kosresepte van Jan en sy makkers af. Ons oorvreet ons aan Jan se kos!

Carine Badenhorst

Oom Jan se kos

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

1 May 2024: Afval Pot and Skaap Pot

1 May 2024: Afval Pot and Skaap Pot

Come join us on 1 May 2024 for a tasty meal featuring our Afval Pot and Skaap Pot.

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 12)

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 12)

In Deel 12 sluit ons af met die twee egpare, Fanie en Judy Bothma van Franskraal en Dolf en Elna Nel van Saldanha...

Gans-Berg Nuus / News
Deadly Death Cap Mushroom

Deadly Death Cap Mushroom

Behold the Death Cap mushroom which was spotted in the Walker Bay Fynbos Conservancy. 

Grootbos Foundation
Front-Row Seats to Breathtaking Sunsets in the Gansbaai Harbour

Front-Row Seats to Breathtaking Sunsets in the Gansbaai Harbour

Experience the breathtaking sunsets of Gansbaai at N०1 Harbour Way!

N०1 Harbour Way
Deadly Death Cap Mushroom

Deadly Death Cap Mushroom

Behold the Death Cap mushroom which was spotted in the Walker Bay Fynbos Conservancy. 

Overstrand Tourism Diary: Weekend Events Schedule

Overstrand Tourism Diary: Weekend Events Schedule

Check out the latest Overstrand Tourism Diary for a weekend full of fun activities! 

See All Articles