Anna se Ma

Anna Jarvis het in die dorpie Grafton in WestVirginia gewoon. Haar ma was ‘n onderwyseres. Op 12-jarige ouderdom het sy na ‘n klasgebed van haar ma geluister : I hope that someone, sometime, will found a memorial mother’s day, commemorating her for the matchless service she renders to humanity in every field of life. She is entitled to it.

Hierdie gebed het ‘n blywende indruk op hierdie jong dogter gemaak. Langs haar moeder se graf, jare later, het sy die woorde saggies ge-uiter: “By the grace of God, you shall have that Mother’s Day.”  Haar broer, Claude, het dit gehoor en haar ondersteun in hierdie belofte.  Met haar gefokusde waarnemings het dit vir haar duidelik geword dat volwasse kinders nie aan hulle ouers die regmatige aandag gegee het wat sy gereken het hulle verdien nie.

In 1907 begin sy deur publieke optredes ‘n aggressiewe veldtog om ‘n Nasionale Moedersdag gevestig te kry. Die volgende jaar betrek sy 407 kinders en hul moeders by ‘n kerkdiens en in die daaropvolgende jaar neem 45 state in die Verenigde State van Amerika aan Moedersdag-vieringe deel. Omdat haar ma se geliefkoosde blomme wit angeliere was, oorreed sy alle kinders wie se ouers reeds gesterf het, om dit tydens die kerkdiens voor die bors te dra. Die kinders met lewende moeders, was gevra om pienk en rooi angeliere te dra. In 1914, met nagenoeg ál die Amerikaanse state wat meedoen, kondig President Woodrow Wilson die tweede Sondag van Mei aan as offisiële Moedersdag.   

Anna het so ernstig hieroor gevoel dat sy later ‘n hofgeding aangegaan het teen die oor-kommersialisering van die dag, ‘n saak wat sy ongelukkig verloor het.  Self het sy nooit getrou nie en kon dus nie die vreugde van moederskap ervaar nie, maar tot die dag van haar dood, op vier en tagtig jarige ouderdom, het sy haar moeder se nagedagtenis geëer deur blyke van waardering en stories oor hulle gelukkige samesyn met ander te deel nie.

‘n Ma is ‘n vanselfsprekendheid. Geen mens wat kind genoem word, is sonder ‘n ma nie. ‘n Moeder word uit ‘n vrou gevorm tydens die geboorte van haar eerste kind. Daarna word sy weer nuut gebore saam met die koms van elkeen van haar volgende babas, want elke kind het ‘n eie persoonlikheid waarvolgens Mamma hulle moet lei tot volwassenheid. ‘n Ma is haar kind se eerste liefde.  Die hitte van haar vel is sy eerste sekuriteit nadat hy momenteel in die koue buitewêreld geboenderis.  Dit is haar omarming wat vir hom die  knusse holte, waarin hy vir maande lank genestel het, simuleer;  haar sagte koer-geluidjies wat hom stelselmatig vervreem van haar liggaamsgeluide waaraan hy gewoondgeraak het.  ‘n Pa se liefde vir sy kind verskil van ‘n Ma se liefde en dit mag nooit ‘n verwyt of ‘n beskuldiging raak of enigsins teen haar gehou word nie. As dit lyk of sy haar kind liewer het, dan is dit so, omdat dit so mag en moet wees;  hulle was immers vir veertig weke lank één liggaam wat dieselfde emosies gedeel het. ‘n Ma se gedagtes is baie selde, indien ooit, net haar eie; sy dink eenkeer vir haarself en eenkeer vir haar kind. ‘n Ma verstaan dit wat haar kind nie sê nie. Sy het daardie ingeboude radar wat haar kind se gevoelens optel in sy oë, of in sy houding, in die manier van sy voetval, of die sak van sy skouers. Al word sy hoe oud, bly ‘n moeder se sintuie altyd ingestel op haar kind se vordering en vooruitgang, want sy wil vir hom net die beste hê. In tye van swaarkry, stil ‘n ma haar honger deur te kyk hoe haar kinders eet. ‘n Goeie ma is nie ‘n steunpilaar om teen te leun nie; sy is die een wat haar kind leer om regop te bly; haar rokspante is nie ‘n skuilplek nie; sy bring hom na vore om realiteit en verantwoordelikheid in die oë te kyk. Gee haar dan op Moedersdag die kosbaarste juwele wat sy kan besit: jou hande om haar nek. En besef net dit:  niks kan ewenaar dit wat sy vir jou gegee het nie – lewe!

 Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1