Die Bietoubossers se onlangse byeenkoms het met hartaanvalle, beroertes, verstikking en dies meer gepaardgegaan. Gelukkig nie onder hulle lede nie, maar in die sin van goeie advies deur Overstrand Medical Response se knap span deskundiges, Cassie Carstens, Riaan Buys, Chantelle Colyn en Kobus van der Merwe. “Leonie Botha en haar span was vir die byeenkoms verantwoordelik en daar is sommer weer gesellig saamgekuier en ‘n eetdingetjie geniet,” vertel Elizma de Lange van die Bietoubos Damesklub van Perlemoenbaai en De Kelders.
Die hoogtepunt van die oggend was Overstrand Medical Response en hulle aanbieding en gesprekvoering met die dames.” Daar is aan hulle verduidelik dat die span in twee skofte 24/7 aan diens is met twee ambulanse en twee reaksie-voertuie.
“Belangstellendes wat by hulle as lede wil aansluit, kan baie, baie geld bespaar,” sê Elizma. “Nie-lede betaal groot bedrae en uitroepfooie, wat steeds goedkoop in vergeleke met ander plekke is, terwyl lede basiese dienste soos uitroepe vir bloedsuiker, bloeddruk, suursof, brandwonde en EKG’s alles gratis ontvang.”
Sy sê ambulansvervoer vanaf Gansbaai na Hermanus beloop R1,000 (lede) en R3,000 (nie-lede) en vanaf Pearly Beach na Hermanus is dit R1,500 (lede) en R4,000 (nie-lede). “Hierdie is enorme besparings vir lede en ‘n groot deel van die dames was gemotiveerd om by hulle as lede aan te sluit, wat ons ook sterk by enige ander persoon sou aanbeveel.” Overstrand Medical Response is ook geregistreer om by Mediesefondse te eis en hierdie gedugte span het geen bekendstelling in hierdie omgewing nodig nie. Hulle dienste en optrede is deurgaans onverbeterlik en vinnig. Maandelikse lidmaatskapfooie vir soveel gratis dienste beloop ‘n skrale R100 per maand, met ‘n eenmalige administrasiefooi van R50. Hulle kan by 078-427-8647 (Cassie) of 083-881-3631 (Riaan) gekontak word, of stuur ‘n e-pos aan hulle by overstrandmedics@gmail.com.
Belangstellende dames van De Kelders, Perlemoenbaai of Gansbaai kan die voorsitter, Annette van Zyl by 028-384-1075 skakel, of skakel vir Elizma de Lange by 028-384-1963.
Hardus Botha