Gansbaai se drie Goue Verantwoordelike Toerisme Wenners (“Gansbaai ís Goud”, Gansbaai Courant, Donderdag, 23 April 2015), is weer beloon. Overstrandse Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Nicolette Botha-Guthrie het aan al drie instansies pragtige geraamde sertifikate namens die munisipaliteit oorhandig.
Die seremonie het tydens Wyk 2 se Wyksvergadering op 13 Mei 2015 plaasgevind. Die sertifikate wat oorhandig is, was vir die prestasies wat tydens die prestige-aand van African Responsible Tourism Awards 2015 bereik is: Gansbaai Toerisme Buro: Goud vir die “Best Destination for Responsible Tourism”, asook Algehele Wenner; Marine Dynamics: Goud vir die “Best for Wildlife Conservation”; Grootbos Privaat Natuurreservaat in vennootskap met Grootbos Foundation: Goud vir die “Best for Poverty Reduction”.
Die toekenning as Algehele Wenner wat aan Gansbaai Toerisme Buro gemaak is, het tot gevolg dat Gansbaai outomaties een van die finaliste vir die World Responsible Tourism Awards is wat gedurende November vanjaar in die Wêreld Handelsentrum in London sal plaasvind. Raadsdame Botha-Guthrie het haar opregte waardering tydens haar gelukwensing aan die drie instansies oorgedra en gesê die Overstrand in geheel kan net baie trots op hulle wees. Van die Toerisme Buro het Brenda du Toit (voorsitter), Glenda Kitley (Bestuurder) en Caron Lee (Bemarking) hulle sertifikaat in ontvangs geneem. Wilfred Chivell van Dyer Island Conservation Trust en Marine Dynamics se sertifikaat ontvang en Michael en Dorothy Lutzeyer van Grootbos Privaat Natuurreservaat in samewerking met Grootbos Foundation hulle sertifikaat.
Hardus Botha