Teen wil en dank moet ek die grys perd in die bek kyk, en aanvaar dat ons eerste kleinkind groot genoeg is vir ‘n teepartytjie op haar verjaardag.
Dit terwyl ek nog self – al is dit net by uitsonderlik geseënde geleentheid –steeds voel asof ek in my ma se te groot polvyskoene slof, met haar wyerandhoed op die kop; die een met die stywe organza flertse reg rondom, wat sy vir troues gereserveer het. Nie dat ons ooit die voorreg gehad het om kinderpartytjies te hou nie; daar was net een van ant Cato Barend se laagkoeke met botterversiersel, met ‘n paar kersies in hulle blomblakertjies bo-op. Daarvan het ons een stuk gekry en verder gesit en kyk hoe die grootmense die res opeet saam met hulle tee. Want grootmense het tee gedrink, nie kinders nie.
Vir ons was daar rooi koeldrank wat ons self van Exa konsentraat en suiker moes aanmaak. Ek en Sus het beurte gemaak om die vrag suiker in ‘n enamelskottel vol water te staan en roer totdat al die suiker opgelos was. Die houtlepel wat ons daarvoor gebruik het, was naderhand so swaar soos ‘n voorhamer en jou voorarmspiere was lam. Dan in die een hand, dan in die ander hand, maar al wat wou oplos was die suiker. Om alles te vererger, moes ons op ons knieë op Pappa se houtbankie staan om binne roer-bereik te wees van die skottel wat bo-op die wasbak gestaan het.
Daar was nie afklimkans om bene te rek nie, want jou beurt was jou beurt en die werk moes klaarkom. Tot vandag toe sal geen mens my sommer ‘n rooi koeldrank sien drink nie. Die naaste wat ons as kinders aan teedrink gekom het, was die porselein speelgoedstelletjie. Met kamma-tee en kamma-koek. Die lekkerste was egter om die tafeltjie te dek en blommetjies op te sit. Alhoewel dit teen die huiswet was, het ons stilletjies in die linkerkantste laai van die buffet in die eetkamer ‘n mooi lappie gaan gaps. Die lappies was oorheersend wit, maar in verskillende kleure geborduur. Ander was gehekel. Daar was skinkbordlappies, spieëltafel stelletjies en sommer-net-lappies wat onder ‘n lamp of potplant op ‘n kassie of tafeltjie gebruik was. Die geborduurde lappies het voorkeur geniet, want daarvolgens kon ons gaan blommetjies pluk in die tuin of op die werf, of dalk nog skelmpies anderkant die draad as ons weet dit is die oumense se slaaptyd. Die draadheining tussen ons en ant Sarie was dig gerank met kanferfoelie en blousysel, maar snaaks genoeg, was die blomme altyd mooier aan ant Sarie se kant. Oorkant die pad het ant Dina ‘n digte, pienk-rosie-heining gehad. Dit was altyd ‘n groter trekpleister as die groot verskeidenheid van blomme wat heeljaar rondom ons huis kleur gemaak het.
Om dus te maak asof ons tee skink en drink, was sekonder tot die keurige voorbereiding van ons teetafel. Eers heelwat later, toe ons self kon bak en brou, het ons vergunning gekry om een van die teestelle onder uit die buffet te haal om op ‘n Saterdag agtermiddag die koshuismeisies mee te onthaal. Maar, o droewe dae, deesdae gebeur alles in bekers. Selfs die teekoppies in restaurante is niks meer as verkorte bekers nie. Dikrandig, met die trotse logo van die plek teen die kant ingebak, so banaal dat mens na ‘n tweede koevertjie suiker móét gryp. Wat ‘n wonderlike, nostalgiese oomblik was dit dan tog vandag om Kleinkind se gedekte teetafel te kon aanskou.
Staander met onversierde kolwyntjies, wat hulle self moes versier. Bordjies vol van verskillende vingerhappies. En teekoppies met dun randjies, driekwartvol gevul met vrugtesap. Dit het nie lank geduur nie, of enetjie roep: “Tannie, wanneer kry ons tee?” En sy vra ‘n tweede keer en ‘n derde en ‘n vierde keer en toe hou ek op met tel. Wat is ‘n teepartytjie tog sonder tee?
Hulle skink self uit ‘n glasbeker met getuite deksel en hulle pinkies staan in die lug soos hulle drink. Hulle het die X-faktor van teedrink. Net daar besef ek: hierdie sesjarige spannetjie is op die regte pad. Ek kan dus maar rustig oudword, die volgende generasie se dametjies gaan fyn afgerond wees. Maar...toe gaan klim hulle in die bome!
Carine Badenhorst