Wel en wee van n Pienkvoete afrigter

Wel en wee van n Pienkvoete afrigter

Gansbaai Courant

Dis makliker om 'n kind te leer lees as rugby speel. Só het 'n onderwyser-vriend gemaan toe hy hoor ek wil as afrigter by laerskole-rugby betrokke raak. Nou, byna agt jaar later, kan ek inderdaad getuig rugby-afrigting in die grondslagfase (o/7, o/8 en o/9) is nie kinderspeletjies nie. Gewapen met 'n ewig brandende passie en oorvloedige entoesiasme, maar sonder enige praktiese ervaring, het ek my destyds by die Laerskool Gansbaai aangemeld.

Dit was my manier om as afgetredene met ruim tyd tot sy beskikking iets terug te gee van die genot wat hy oor baie jare heen uit sport geput het - eers as deelnemer met meer geesdrif as talent en later as verslaggewer, leser en toeskouer. Aanvanklik het ek ook met tennis en krieket gehelp, maar mettertyd gekonsentreer op rugby, waar die grootste behoefte aan afrigters van buite die skool steeds bestaan. Die bywoning van verskeie afrigtingskursusse die afgelope jare was natuurlik nuttig, maar ek het die meeste geleer van 'n man met meer as 40 jaar ondervinding van wat hy self pienkvoete-rugby noem. Hy is Attie Barnard, pas afgetrede onderwyser by Gansbaai Laer en in sy fleur 'n provinsiale vleuel. Sy filosofie is dat rugby vergelyk kan word met die spel van die lewe - jy moet baie stampe en stote verduur om anderkant uit te kom. Met Attie as mentor het ek gou agtergekom wat die belangrikste aspekte van afrigting vir die kleintjies is.

Die eerste is om hulle rigting te leer, m.a.w. watter kant die doellyn is. Instink sal jou laat hardloop na die kant waar niemand jou gaan keer nie, en dis agtertoe. Dit gebeur heel dikwels dat 'n outjie sierlik oor sy eie doellyn duik, met 'n triomfantelike glimlag opspring en dan sien die toeskouers kan hul lag nie hou nie. Die ontwikkeling van balvaardighede is noodsaaklik, maar vereis uiterste geduld van die afrigter. Die aandagspan van pienkvoete is korter as Bismarck du Plessis se draad.

Eendag het ek 'n aspek van verdediging kortliks aan die outjies verduidelik en geleentheid vir vrae gegee. Kom 'n stemmetjie: “Wat het van oom se hare geword?” Die harde werklikheid van 'n kontaksport verg 'n yslike aanpassing vir die meeste jong spelers. Meer as een keer het ek 'n pikkie vir sy maats hoor vra om asseblief nie vir hom die bal te gee nie. Hy was heel tevrede om in die bondel saam te hardloop solank hy nie geduik word of self moet duik nie. Een keer het ek bra moedeloos vir hulle gesê om eerder iets soos gholf of ballet te probeer as hulle nie stampe of stote wil kry nie. Vra een toe: “Wat is ballet, oom?” (Dié outjie het by elke oefening gehuil totdat hy maar rugby laat vaar het. Of hy hom tot ballet gewend het, weet ek nie, maar hy het belofte getoon vir 'n dramatiese rol.)

Nog 'n uitdaging vir 'n pienkvoete-afrigter is om die seuns as 'n span te laat speel. Sodra 'n pikkie  sy vrees vir kontak oorwin het, gee hy nie sommer die bal uit nie. Dikwels sal hy met sy eie spanmaat stoei om besit daarvan. 'n Algemene klagte is: “Oom, hulle wil nie die bal vir my gee nie.” Dan sê ek maar hulle moet self die bal gaan soek, daarmee vorentoe hardloop en, sodra hulle vasgekeer word, agtertoe aangee na 'n spanmaat. Gelukkig gaan dit ook in hierdie opsig mettertyd beter. So tussen die frustrasies deur is daar darem ook ligter oomblikke. Party spanne het die gebruik om voor wedstryde 'n gebedjie op te sê waarin bv. gevra word dat hulle die rugby geniet, dat niemand seerkry nie en dat die skeidsregter die regte besluite neem (nie kroek nie?).

Ná 'n paar groterige nederlae was dit Fanie se beurt vir 'n gebedjie: “Liewe Jesus, ons mag nie vra om te wen nie, maar kan ons nie miskien vandag net-net verloor of gelykop speel nie?” (Sy stoutste verwagtinge is oortref, want sy spannetjie het daardie dag sowaar gewen!) Wanneer jy sien hoe seuns deur die loop van die seisoen as rugbyspelers en bowenal as mense ontwikkel, kan jy nie anders as om die spel se waarde as karakterbouer te besing nie. En dan is jy dankbaar dat jy 'n klein deeltjie van hierdie belangrike proses kan wees en vergeet jy al die frustrasies wat daarmee saamgaan.

Gerrit Cloete, Afgetrede koerantredakteur

Wel en wee van n Pienkvoete afrigter

Gerrit Cloete

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Gans-Berg Nuus / News
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Congratulations to Grootbos which won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Grootbos Foundation
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

We're excited to announce that Grootbos won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos, die restaurant, bekend vir sy krokodille, op die dangerpoint-pad, het ‘n bedrywige en gesellige ‘First Thursday’ op Donderdagaand, 4 April 2024.

Gans-Berg Nuus / News
Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf competition results for 17 - 21 April 2024.

Gansbaai Golf Club
SMEG Traditional Kitchen Collection

SMEG Traditional Kitchen Collection

Explore the perfect blend of style and practicality with the SMEG Traditional Kitchen Collection, now in stock at S Herholdt. 

S Herholdt
See All Articles