Gansbaai Fotografieklub het Maandag maar net weer eens bewys dat hulle weet hoe om foto’s te neem. Voorsitter Riaan Jacobs het enkele afkondigings en toekomstige aktiwiteite bespreek, waarna die Aanbiedings- en Mediabeampte, Marc du Plessis die tema-foto’s, Bome/Trees, vertoon het. Opbouende kommentaar en kritiek is gelewer, maar almal was dit eens dat die foto’s wat vertoon is, van uitstaande gehalte is.
“Maar dit mag nooit beginners of lede met mik-en-druk kameras ontmoedig om as lede voort te gaan of by die klub aan te sluit nie,” het Riaan gesê. “Inteendeel, ons is nou weer besig om onderskeie kategorieë te ontwikkel om alle lede ‘n gelyke kans te bied.” Die bome-foto’s het gewissel van bome met berge, water of wolke in die agtergrond, tot by enkelstamme en selfs ‘n groot kwas in ‘n stam - die een foto so kreatief soos die ander een. Daar is ook verwys na foto’s met ‘n “storie” daaragter wat ook ‘n groot impak oplewer.
‘n Goeie voorbeeld is Riaan se foto van ‘n boom met ‘n vervalle huisie half onder die boom. Riaan vertel: “Die storie is soos my ma (86 ) dit aan my vertel het. Haar grootouers, “Langboeta” Coenraad Fourie en Johanna (Nooi Blom), het daar gewoon en geboer en my Ouma Kooitjie Lourens is daar in 1902 gebore. My Oupagrootjie is in 1935 daar oorlede en sy seun, Jannie Fourie, het verder geboer totdat hy na Napier verhuis het. Die huisie soos dit tans lyk, is maar net ‘n deel van die groter plaaswoning en daar was baie vrugtebome. Al wat nog oorbly is die akkerboom wat jare gelede amper uitgebrand het en die klein huisie wat nog staan. Dit staan op die plaas Vredenburg op die Sandies Glen pad naby Salmonsdam.”
Vir navrae kan Riaan Jacobs by 082-373-8270 geskakel word, of Veronica du Plessis by 084-826-8781.
Hardus Botha