Sowat 50 lede van Overstrand Brand en Rampbestuur, asook offisiere, het vanaf 14 tot 16 Mei 2015 by Strandskloof Karavaanpark vir ‘n strategiese sessie bymekaargekom. Die doel van die byeenkoms was om aan spanbou te werk en besprekings in die algemeen te voer, asook om oor die vorige brandseissoen te praat.
Elke Divisie Bevelvoerder het geleentheid ontvang om oor hul onderskeie portefuljes met die manne en vroue te praat. Maar daar is ook op groot pret, sport- en spanaktiwiteite soos “touch” rugby, wollie ball en sokker gefokus, asook enkele boeresportitems soos eierloop, kruiwastoot en die uitduik van items in die swembad. Egte brandweer-“sport” is nie afgeskeep nie: “tyre-flip” kompetisies en die uitrol en oprol van brandslange was ook aan die orde van die dag, wat nogal aanskoulik was om te aanskou.
Die groep is in 4 spanne opgedeel en “pryse” vir die beste spantye kon gewen word. Saterdagaand het hulle met ‘n gesellige skaapbraai afgesluit. Oor die algemeen beskou, kan dit as ‘n suksesvolle en insiggewende spanbousessie beskou word, met die kweek van ‘n onderlinge spangees - iets wat vir hulle in soms moeilike werksomstandighede van groot belang is.
Hardus Botha