In die vlam van 'n kers

Ek kom al hoe meer tot die besef dat  beurtkrag tog nie so sleg is as wat ‘n mens dit voor afgemaak het nie. Om heeltemal eerlik te wees, ek kyk al met ‘n ander gemoed na Grid Watch op my foon. Hoe het ons tog te kere gegaan met die eerste aankondiging van beurtkrag! Nee, dit kan tog nie. Dit is sommer net ‘n storie om mense te motiveer om krag te bespaar. Ons was totaal in ontkenning en het ons mees gekruide woordeskat uitgehaal teen Eskom en die regering se onvermoë om basiese dienste te voorsien. Die eerste keer toe ons, teen alle gewaande vertroue in, eensklaps in duisternis toegevou word, het dit ons dus onkant gevang. Die skrif was in wit fosfor op die pikswart muur.  Sien is glo, al kon jy nie jou hand voor jou eie oë sien nie. Die wat nie in mekaar vasgeloop het op soek na vuurhoutjies nie, het teen kaste vasgeloop op soek na kerse en flitse. Swetsend. Pa het skree: “Sit die tv af by die muur!”  Ma het terug gegil: “Vergeet die tv, sit die kaste af!”  Die kindertjies het geskree, want hulle was totaal bedremmeld van bang vir die donker. “Bly net sit daar waar julle is totdat ons lig het!” het Ma probeer  paai net voor sy haarself  wind-uit, trompop teen Pa vasgeloop het. “D…….., kan jy nie kyk waar jy loop nie?” Hy was briesend. Vir almal, vanaf  Zuma tot die hond, maar hoofsaaklik vir homself, oor sy goedgelowigheid.  

Die enigste kers in die kas was reeds half-gebrand, ontoereikend vir die massiewe taak ophande.  Pa en Ma was weer in mekaar se hare. Pa het vir Ma verkwalik omdat sy nie kerse gekoop het nie en Ma het vir Pa blameer omdat hy nog nooit die lampe en die olie uit die pakkamer gehaal het soos wat sy gevra het nie. En steeds was dit donker – ‘n halwe kers se donker. Ma was genoodsaak om al haar mooi kerse wat eintlik nie vir gebruik bedoel was nie, aan te steek. En toe was daar lig. Die kinders het op die waskamer se vloer gesit terwyl Ma skottelgoed gewas het en haar gevolg oral waar sy beweeg het, te bang om alleen in ‘n skemer vertrek agter te bly. Pa het gaan bad en in die bed geklim. Niemand kon uitmaak of sy gemompel ‘n gebed was en of dit ‘n vervloeking was nie.

Die krag het aangegaan terwyl Ma by kerslig uit die Kinderbybel uit gelees het, net betyds vir die kinders om in alle normaliteit tot slaap te kom. Soos met alles onbekends, het dit tyd geneem om aan te pas by die tydige en ontydige donker ure wat deel van ons daaglikse bestaan geword het en klaarblyklik nog vir die volgende jaar of wat gaan voortduur. Vir myself voel dit na déjà vu, omdat ek grootgeword het met hierdie beligting. 

Dinge was soveel anders. Ons het alle noodsaaklikhede gedurende daglig afgehandel. Lampe en kerse het op die uiterste vir solank saans gebrand as wat die beurtkrag nou duur. Ons was vroeg in die bed, want daar was geen televisie wat ons gevange gehou het nie. Pappa en Mamma het die mooiste stories opgemaak rondom die animasies wat hulle -  in die skaduwee-pad van die kerslig - met hulle vingers teen die muur gegooi het.  Naweek-aande het ons naughts and crosses, ludo, snakes and ladders, pick-up-sticks en rummy in lamplig op die etenstafel gespeel. 

En almal van die houtstoof af warm melk gedrink voordat ons gaan slaap het. Soms het ons in die vroeë oggend-ure, enige tyd van vieruur af, wakkergeword van die naaimasjien se stik-sang wanneer Mamma vir die gesin sit en klere maak het by die lig van ‘n olielamp.

Die sagte gloed wat deur die venstertjies van die middeldeur, deur die voorkamertjie in ons kamer teen die muur kom lê het, het ‘n snoesige huislike atmosfeer geskep, ‘n veiligheid wat ‘n mens opnuut in ‘n salige slaap laat wegsink het. Daar is vir my weliswaar niks vreemds in die vlam van ‘n kers nie; inteendeel, dit verwarm my hart soos geen sonpaneel-aangedrewe verwarmer of nuwerwetse katvel kombersie dit kan regkry nie. 

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1