Gansbaai Lionsklub het gesorg vir ‘n smaaklike en gesellige Moedersdagete op 10 Mei vanjaar aan die inwoners van Herberg-aan-See, asook Silwerjare Dienssentrum. Die Moedersdagetes aan dié twee tehuise het reeds ‘n jaarlikse instelling deur Gansbaai Lionsklub geword en bestaan elke jaar uit ‘n hoenderbraai. Die Lions-manne het vir die braaiwerk gesorg, waarna die smaaklike ete met gebakte poeding afgerond is. Daarna is al die inwoners huis toe met ‘n ietsie soet vir later die middag (sjokolade in die hand).
“Ons geniet dit net soveel as die bejaardes,” sê Johanna le Roux van Gansbaai Lions. Verder het Jan le Roux dit ook goedgedink om ‘n paar ex-Lions op 2 Junie vanjaar vir kaas en wyn by die klubhuis te nooi. “Ons het lekker gesels en saamgekuier en ons was ook bevoorreg om ons eerste President van Gansbaai Lionsklub, asook van die stigterslede, by ons funksie te kon hê,” sê Jan. “Ons gaan beslis binnekort weer so ‘n funksie aanbied.” Gansbaai Lionsklub bedank graag vir Chris en Petra van Rensburg van Gansbaai OK Foods vir hul bydrae ten opsigte van die ete, asook Chris Boshoff van Birkenhead Brouery vir sy wynskenking.
Hardus Botha