“Die oorsprong van boomlusern in Suid-Afrika is ’n boom wat dekades gelede naby die NG Kerk op Gansbaai as versiering geplant is. ‘n Visserman het gereeld by die Kanariese Eilande aangegaan en saad daarvan teruggebring.”
Hierdie aanhaling kom uit prof Hennie Snyman van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat se boek, Gids tot die volhoubare produksie van Weiding. Die hoofstuk oor die boomlusern, Boomlusern - ‘n wondergewas vir veeboere? (16.1.3) is deur Felix Reinders in ‘n Landbou Weekblad (datum onbekend) geplaas.
“Kyk net hierdie interessante opmerking oor Gansbaai en die boomlusern,” het Das van Dyk van Kleinbaai gesê. Prof Snyman skryf dat die boomlusern (Chamaecytisus palmensis, Chamaecytisus proliferous, Cystisus proliferous) nie net dieselfde voedingswaarde as gewone lusern het nie, maar dit groei in die vorm van ‘n struik wat net so afgevreet kan word. Die plant se lewensduur is 60- tot 80 jaar, is immergroen en kan dus die heeljaar kos in die vorm van vars groenvoer verskaf. Boomlusern kan ‘n plaas se weidingskapasiteit tot tien keer verhoog wanneer ‘n blok daarvan op gewone veld geplant word. ‘n Veld wat jaarliks sowat 1 ton gras per hektaar lewer, kan ongeveer 8- tot 10 ton vreetbare boomlusern per hektaar lewer.
Daar is ook geen blousuur in boomlusern nie en beeste kan heeljaar daarop loop en selfs 1kg gewig per dier per dag aansit, sonder om te vrek, terwyl die gevaar van vrektes wel by gewone lusern bestaan. “Die spasie tussen rye boomlusern moet met gewone aangeplante meerjarige gras, soos smustvinger (Eragrostis), beplant word. Dié meerjarige grassoort produseer fantasties, aangesien hulle toegang kry tot die gratis stikstof wat die boomlusern vrystel,” skryf prof Snyman.
Etlike ander wenke en inligting is op die webtuistes, www.boomlusern.co.za of www.treelusern.co.za, beskikbaar. Indien oud-Gansbaaiers dalk meer lig op Gansbaai se boomlusern dekades gelede kan werp, kan Gansbaai Courant gerus vir ‘n opvolgberig gekontak word.
Hardus Botha