Hoe stout was Pa?

 “Hoekom het Ma ons nooit vertel hoe stout Pa was nie?”    Die gesegde dat ‘n pa sy seun se eerste held en sy dogter se eerste liefde is, is ‘n spyker op die kop geslaan. In die klein wêreld van ‘n baba is Pappa se stem  die eerste diep, lae-register-klank om aan gewoond te raak. Dis ‘n ander toonhoogte en intonasie as die kalm, sagte, gerusstellende klank van Mamma se stem.

Terwyl in vitro navorsing getoon het dat ongebore babas deur verhoogde hartklop en selfs die draai van hul koppies op hul ouers se stemme reageer,  kon dit ongelukkig nie bewys word dat Baba voorkeur verleen aan Pappa se stem bo die van Mamma nie. Op 4 maande verkies hulle wel hul ouers se stemme  bo die van vreemdes, maar as hy moet kies tussen Pa en Ma, wen Ma loshande. Dit is iets waarvan elke nuwe pa kan getuig: daardie uitgesluite gevoel omdat die band aan die ander kant so sterk is. En dit is heel moontlik waar pa’s soms die eerste foutjie maak deur terug te staan in stede daarvan om hul regmatige plek as ouer in te neem.

‘n Pa is die sterk een in die gesin en alhoewel aanvanklik nie so op die voorgrond soos die ma nie, is sy teenwoordigheid van kardinale belang vir ‘n baba. Daardie diep, sterk, manlike stem in die agtergrond laat die kleintjie veilig en beskermd voel. Die fisiese kontak wanneer Pappa se sterk hande hom vashou en hy op Pappa se harde bors kan lê verinnig daardie gevoel van geborgenheid. Alhoewel mans deesdae baie babavaardig is, kom hul rolle as vaders eers tot volle vervulling vanaf die kleuterstadium wanneer die outjie onafhanklik kan rondbeweeg.  Dis asof Pa nou nie meer bang is vir hom nie. Hulle kan saam op die mat blokkies bou of op die gras bal speel. Om aan sy selfbeeld te bou laat Pa hom natuurlik die meeste van die tyd wen, maar terselfdertyd word hy ook geleer dat verloor net so deel van die spel is as om te wen. 

En natuurlik begin Pa nou ook dissiplineer, daardie minder lekker, maar mees nodige plig wat ouers outomaties opgelê word. In die voor-tiener-stadium begin ‘n kind belangstel in hoe hul ouers se kinderdae afgespeel het. Met geur en kleur vertel ons van ons maniere van speel en van die kattekwaad wat ons aangevang het. Terwyl die kinders tjoepstil en grootogig aan ‘n mens se lippe hang, formuleer hulle hul eie planne:  “As my pa dit kon gedoen het, kan ek ook.” 

Om sake te vererger, wil hulle dit een stappie verder voer. Dis nie genoeg om gelyk te speel met ‘n held nie; om self ‘n held te wees moet ‘n mens kan verbeter op die vorige rekord. In ons huis was daar heelwat voorbeelde. Toe Pa vertel hoe hy Sondagmiddae by die venster uitgeklim het om agter die waenhuis te gaan speel, sluip Seun by die agterdeur uit om  in die bos aan die soom van die dorp te gaan speel, ongeag van waarskuwings deur die Polisie. Om Pa se kiskar-rit op die plaaswerf te verbeter, gaan haal Seun bo teen die steilste bult op die dorp aan met sy remlose kiskar en gebruik die redelik besige t-aansluiting aan die voet van die bult om met ‘n linksdraai tot stilstand te kom. Alles nog steeds in Sondagmiddag-slaaptyd. En Sussie word saamgesleep, want dan sal hulle nie een pak kry nie! Pa het maar net van Sondag se braaiboud in die kastrol op die AGA-stoof gaan steel en dit in die buitekamer gaan eet; Seun het ‘n halwe, gebraaide skaaprib gedeps, dit in sy kamer gaan opeet en die kaal bene bo-op die klerekas gaan wegsteek.

Pa het oor die koshuis se muur geklim om weg te loop; Seun het uit die derde verdieping van die koshuis met die asbesgeut afgeseil om skelm kafee toe te gaan. Toe Pa vertel het hoe hy met sy vinnige GT-kar gaan esse kap het op ‘n modderpad, besluit Seun hy gaan kyk hoe goed Pa se 3lt bakkie kan rotse klim by Danger Point. Geniet jou Vadersdag, maar plaas ‘n wag voor jou mond as jou seun eendag vra “Hoe stout was Pa?”  

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1