Hanswors in die huis!

Met die dat ‘n mens nou nie meer summier in jou ryding kan klim en ‘n rigtinglose toer onderneem nie, nie vry en veilig in die pragtige natuur neffens jou stoep met ‘n kamera kan gaan stap nie, daar meer rapporterings van inbrake in jou buurt as verjaardagwense op facebook verskyn, raak mens mos maar verketting in jou eie huis.  En selfs daar spring geen  muis meer in die lug op oor ‘n tjokvol kruidenierskas nie. Die roetine van die huis wentel rondom Grid Watch se beurtkrag skedule en as jy jou nie betyds daarvan vergewis nie, vang dit jou nog elke keer op die verkeerde voet. Ons persoonlike wêreldjies raak al kleiner en grouer; vaal en van die vreugde sat.  Dit is hoe die hand vir ons uitgedeel is en dit is hoe ons  moet speel met die kaarte wat ons het. Of die tafel verlaat en in die hoek gaan sit met ‘n bottel hardehout in die hoop dat dit anders gaan wees as die babbelaas eendag wyk. Die mens is by magte om hom na baie uiteenlopende omstandighede te skik; die vraag is net of hy die wilsbesluit gaan neem om dit te doen, want die valse trots, o, die trots waaraan ons vasklou! So belangrik as wat eietrots is, kan trots, in hierdie konteks gesien as besittingstrots en statustrots, meer skade as goed doen. Ons moet een of ander tyd die remskoene uittrek; hulle pas nie in ‘n doodskis nie. En die vinnigste manier om van hulle ontslae te raak, is deur te lag.  L-A-G! Vind iets om oor te lag. Daardie lag wat jou oë, jou maagspiere en jou blaas bereik. Pluk uit jou kwinkslae! Dink oor lag as jy met ‘n ernstige gesig op die sypaadjie stap! Lag wanneer jy wil-wil verergd raak! In hierdie huis het ons die afgelope week besluit, bly hansworse. Twee. Ek verdra geen krullers in my hare nie, maar wanneer daar ‘n weerspannigheid op my kop aan die gang is, sal ek net een of twee gebruik as ‘n noodgeval voordat ek iewers heen moet gaan. So maak ek my dorpdraaie by die groentewinkel, Poskantoor, OK en Pep Stores. Dis toe ek by Belmont klaar is en inklim,  dat my kop teen die borant van die deuropening stamp, met ‘n aardige soort van seer. Twee helderblou krullers! Toe ek in die spieëltjie kyk, tref nog ‘n skok my. In my vervaardheid het ek vroeër met een ingekleurde wenkbrou gehardloop om Pa se luidende foon buitetoe te neem en totaal en al vergeet van wenkbrou nommer twee!  Natuurlik was ek skaam. Wat moes die mense van my dink! En dan hoor ek my ma sê: “Nou wat laat jou dink iemand het dit raakgesien?” Met die voordeel van die twyfel aan my kant, kan ons heerlik daaroor lag. Die volgende dag se lag was meer ernstig van aard toe Oupa op die nat stoep gly en val. Praat van trots en verleentheid!! Ek mag nie help nie; ek mag nie eens vrae vra nie. Eers toe hy ‘n halfuur later kliphard begin lag, wis ek niks is darem gebreek nie. Op Vadersdag bederf Sus vir Pa deur die potmakery uit sy hande te neem.  Met sy rug na my toe, vra hy of hy moet rys kook. “Watse huis wil jy nou koop?” vra ek, want hy koop aljimmers huis. Dalk kan Kyknet ons oorweeg vir ‘n oudisie vir die volgende Oupa en Ouma reeks? Vandag besluit ek om knoffel skoon te maak volgens die kortpad manier wat die chefs op Food Channel gebruik, maar omdat ek waaragtig nie ‘n oond daarvoor kan aansit nie, plaas ek die knoffel in ‘n koppie in die mikrogolf. Na dertig sekondes is die knoffel nog hard. Ek stel die oond op 2 minute en gaan aan om uie te braai. Toe ek die reuk kry, is dit te laat! Selfs die binnekant van die porselein-koppie is swart verbrand en dit staan op die houtplankie en tjiek-tjiek terwyl dit afkoel, soos ‘n glaspotjie wat stadig, stuk-stuk bars. Dis die tipe van stand-up comedy wat my lagspiere prikkel. Al is ek my eie, grootste hanswors, werk dit vir my!

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1