Na 10 jaar diens as 'n Ere-Visserye Inspekteur het die 76-jarige Rob Lobb hierdie week afgetree. Rob wat steeds in goeie gesondheid is, is in 2005 deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye as Ere-Inspekteur sonder enige vergoeding aangestel. Die Departement is ook vrygestel van enige aanspreeklikheid vir beserings aan diens. Rob het in daardie tyd eers landpatrollies teen stropery help onderneem, maar is later oorgeplaas na die afdeling wat met 'n rubberboot op see opgetree het. Dit was gevaarlike werk, soms in slegte weersomstandighede en selfs snags.
Hy was by baie suksesvolle operasies betrokke en was die enigste bemanningslid van Hoofinspekteur, Eshaam Khan se bekende rooi rubberboot. Rob het in Parow groot geword en het 38 jaar diens in die Spoorweë later in Durban gehad waar hy dan ook as rekenmeester afgetree het. Die gemeenskap bedank Rob vir sy onbaatsugtige diens in die beskerming van die omgewing se mariene bronne.
Francois de Jongh