Nuusbrokkies vanuit Gemeenskap
Gansbaai Courant se redaksie het besluit om lesers weer die geleentheid te bied om “Nuusbrokkies vanuit die gemeenskap” te plaas. Dit moet gesien word as relevante en interessante inligting oor mense en hul doen en lates. Voorbeelde hiervan is onder andere ernstige siektes of hospitalisasie, verlowings, huwelike, geboortes, vreugde of hartseer van gesinne of individue, prestasies behaal deur gesinne of individue en ander interessante gebeure waarvan lesers kennis kan neem. Kennis moet geneem word dat elke “Nuusbrokkie” eerstens feitelik korrek moet wees en tweedens kort en bondig moet wees. Dit sal ook onderhewig wees aan redaksionele goedkeuring alvorens dit geplaas word. Die bedoeling van “Nuusbrokkies” is allermins dié van ‘n “skinderkolom” in Gansbaai Courant. Mooi, positiewe en interessante inligting kan tot groot vreugdes in hierdie weeklikse artikel lei.
Koos van Blerk, ‘n oud Gansbaaier, herstel tuis te Pearly Beach aan ná behandeling vir klierkanker. Hy bedank graag vir wyle Manie Redelinghuys (voor sy afsterwe), asook Ernst Kriel vir hulp met vervoer na Tygerberg.
Besoek gerus die African Penguin Sanctuary by die kruising van die Gansbaai/Kleinbaaipad en Dangerpoint/Franskraalpad. Daagliks oop vanaf 09:00 tot 16:00 en onthou van die Pikkewyn Reddingslyn vir beseerde seediere 072-598-7117.