Konfoor sonder tessie

By ons werk baie dinge andersom as die normale. Stroomop. Ons spring teen die vloei van die lewe op en uit die water en hoop ons land ‘n entjie vorentoe weer in die water. Net af en toe spring ons hard en ver genoeg om te voel ons vorder; ander tye land ons maar weer  pens eerste op dieselfde ou klip. Ons sal nooit by die oog van die rivier uitkom nie, maar ons forel voort sonder ophou. Een van die stroom-op goed is die kaggel in die klein kombuisie. Dit was ‘n groot aantrekkingskrag toe ons die huis gekoop het, alhoewel dit op totaal verkeerde plek sit.

Ons het in die winter verhuis en baie gou agtergekom hierdie herd het ‘n houding. Hy wil binnetoe uitlaat wanneer die Noordwes waai en die reën op die dak kletter. Hy is ‘n Sedoos-kaggel. Verbeel jou! Hier in die Strandveld, 300 treë van die watersoom af wil hy in die somer brand. Wie braai in die somer binne in die huis?  Die groot rede vir sy halsstarrigheid is die wind wat rondom die buurman se huis warrel voordat dit reg bo-oor ons skoorsteen pad vat teen ons hoë, steil dak uit. Die haan-tipe skoorsteenkap is al vervang met ‘n  windgedrewe trek-turbine wat veronderstel is om rook uit die kaggel uit te suig,  maar ‘n seewind laat hom nie vertel nie. Met die geringste Suidoos-roering in die geelblom-bietou oorkant die pad  word die binnevuur dus aangepak. 

Uitgehonger na ‘n week se verkluim, vererger deur Pa se kragbesparing en deur beurtkrag tot op die punt van hipotermie gedryf. Die oomblik wanneer die sprokkelhoutjies dus begin vlamme lek teen die dikhout, neem ons stelling in soos dassies op ‘n somerklip. Of dit agtuur in die oggend is, is irrelevant. Vir solank as wat die wind reg waai, maak ons vuur, al skyn die winterson hóé guitig buitekant. Nou wens ons weer die kaggel het nie so goed getrek nie, want die hitte gaan by die skoorsteen uit voordat dit die leefvertrek bereik. Oor die drumpel tussen die twee vertrekke met ‘n vrye vloei van lug, kan ‘n mens verkoue opdoen weens die verskil in temperature. Ons gesels oor Dover stowe, koper donkies wat met hout gestook is vir warmwater, strykysters wat op die stoof warmgemaak is en konfore waarop die koffiekan gestaan het om warm te bly. Dalk moet ons die kinders hiermee vertroud maak. In ons huis was ‘n voet-konfoortjie van hout waarop oupa Casper sy voete warmgemaak het. 

Dit was ‘n mondige klein meubelstuk, ‘n kubus van donker hout met ‘n opening met krul-patroon teen een van die sye. Ek het net een keer gesien dat my pa dit gebruik toe hy siek was en Mamma hom met iets ingesmeer het voordat hy met sy voete daarop gesit het. Hulle het vir ons verduidelik hoe dit werk, maar toe ek en Sus ‘n paar jaar later – kort na Pappa se dood en met Mamma by die werk - besluit om dit self te gebruik, het ons vergeet. Die bodem was aan die binnekant ‘n effense, swart holte uitgebrand. Ons het dus besluit om ou tydskrifte se blaaie te gebruik om die vuur binne-in te maak. Na een volle Huisgenoot was daar nog geen hitte aan die bokant nie. Na die tweede Huisgenoot het ons opgegee en die as met ‘n skoppie en skropborsel uitgekrap sodat Mamma niks sou agterkom nie. Toe sy later by die voordeur instap, was haar eerste woord: “Iets brand.”  In die badkamer het die konfoortjie op sy normale plek in ‘n vaalte gestaan en smeul. Die bodem was deurgebrand en die linoleum op die vloer goed op pad om ook deur te brand.

Ons het uiteindelik die hitte voel deurkom, maar nie van die konfoortjie nie; van die wit belt van haar uniform op ons agterstewe. Eers twee dae later, toe alles goed afgekoel was, het sy ons reggehelp: ‘n konfoor werk met ‘n tessie van metaal waar warm kole in gegooi word. Na daardie loesing het ek die ou voetbankie maar afgesweer, maar tog verlang ek dan nou na hom as ek saans met my voete op ‘n koue bankie voor die televisie sit!

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1