Sers Adele Visser (35) van Gansbaai SAPD het met trots haar welverdiende B.Tech-graad in polisiëring by UNISA aan die einde van 2014 verwerf.
Adele se ma, Lucille Mangiagalli, haar suster, Janine Lodewyk en ‘n vriend het die gradeplegtigheid op 19 Junie 2015 in die His Peoples Church N1 City se saal bygewoon. Adele het aanvanklik haar Nasionale Diploma in Polisiëring aan UNISA verwerf, alvorens sy op die groot stap vir ‘n graad besluit het.
Sy is in 2011 vanaf die rang van konstabel na dié van sersant bevorder, ná die verwerwing van haar diploma. Adele het in die Kaap grootgeword, maar is al sedert 1996 ‘n Gansbaaier en in 1998 matrikuleer sy aan die Hoërskool Hermanus.
Sers Visser is ‘n bekende gesig in Gansbaai, waar sy nog altyd aktief by gemeenskapsprojekte, asook etlike komitees binne SAPD-geledere, betrokke was en steeds is. Sy is ook ‘n staatmaker vir Gansbaai Courant met haar knap fotografie tydens gemeenskapsprojekte en is ook altyd behulpsaam met die verkryging van sodanige inligting.
Die redakteur en personeel van Gansbaai Courant dra graag hul gelukwense aan Adele oor.
Hardus Botha