Die wiel draai

Dit neem ‘n hele paar dekades voordat ‘n mens eers regtig tot die besef kom watter impak die roetines, geluide en geure van jou ouerhuis gehad het op die boetsering van die volwassene wat uiteindelik uit die vuuroond gekom het om op die rak te staan en afkoel. ‘n Baba is tog soos ‘n bondel klei in die hande van die ouers, die pottebakkers. Hulle knie en brei hom, gooi water oor dat hy nie uitdroog nie; hulle gooi hom op ‘n draaitafel en hoop hy val reg in die middel voordat hulle die omwentelings begin. 

Dit verg vaardigheid  en konstante oefening om ‘n perfekte resultaat te waarborg. Maar geen kind, soos ‘n hand-geboetseerde kleipot, is heeltemal perfek nie; dit is juis waarin die uniekheid van elke stuk lê.  Sommige pottebakkers verkies om in stilte te werk. Vir hulle is die ritme van die draaitafel genoegsame musiek. Ander verkies weer agtergrondmusiek terwyl hulle hul kreatiwiteit uitleef. Die kleipot wat ek is, kom uit so ‘n studio. Daar was altyd musiek. My ouers en een van my ma se broers het ‘n familie-orkessie gehad. My ma het trekklavier gespeel, my pa ‘n saag en my oom ‘n banjo. Blykbaar het daar nie ‘n verjaardag of huweliksherdenking verbygegaan sonder hulle optrede nie. Ek onthou van net één geleentheid wat in tannie Outittie se motorhuis plaasgevind het. As ek reg onthou was dit my ma se jongste sussie, toe reeds geharde oujongnooi, se uiteindelike troue. Daar het baie geel ballonne en geel konsertina-stringe van die balke afgehang. 

Die jongste vier van my tannies was ‘n jolige spul en het hulle rokke bokant hulle knieë vasgehou terwyl hulle voete geskuifel en hulle opgeskop het. Die Charleston, het my ma later jare verduidelik. Die ouer broers en susters was - weens die waardigheid van hulle huweliksmaats -  net toeskouers, maar ‘n mens kon sien hoe hulle voete jeuk om mee te doen.  Kinders was natuurlik glad nie toegelaat op ‘n dansbaan nie, maar het ‘n vyf-minuut-vergunning ontvang voordat ons weer moes teruggaan na die Aga-verwarmde kombuis waar  allerlei speletjies op die groot tafel uitgepak was. Die orkessie het ontbind toe my oom gaan trou het. By rare geleentheid het my pa of ma die trekklavier uitgehaal en iets daarop gespeel. Nadat ek en Sus begin klavierlesse neem het, is die trekklavier weer uitgehaal sodat ons dit ook kon bemeester. Maar dit is die musiek wat ons huisie se vertrekke van agter die gaas-sirkel van die groen radio op die kombuiskas gevul het, wat die meeste impak gemaak het. 

Jeanette MacDonald en Nelson Eddy se Indian Love Call, Will you Remember en Ah, Sweet Mystery of Life;  die Groot Mars uit Aïda (Faust); die Toreador Lied uit Carmen (Bizet);  die Slawekoor en Violetta uit Verdi se operas Nabucco en La Traviata; Tchaikovsky se Swanemeer; Polonaise van Chopin; Strauss walse;  Franz Liszt se 2e Hongaarse Rapsodie en Liebestraum. Saam daarmee het Moeder ons die stories van die operas vertel. Dit was my grootword, my boetsering se agtergrondmusiek en daarom tot vandag toe die fluweeldoek wat my siel bedek. 

Tydens die oorlogjare was daar heelwat teaters in Kaapstad, maar Mammie het met ‘n dromerigheid vertel van die Alhambra met sy nagblou dak met flonkerende sterretjies en die sipresboompies van gips wat agter die gedraaide pilare van die boksgallerye reg rondom uitgesteek het. Dit was ook hier waar sy die Walt Disney bioskoop Fantasia gesien het waar die diertjies op die musiek van Dans van die Ure, een van haar gunsteling musiekstukke,  hul passies uitgevoer het. Voortspruitend hieruit moes ons ook nog luister na The Chipmunk Song, wat om ‘n duistere rede vir haar luisterwaardig was. Ek het glad nie hierdie sentiment met haar gedeel nie, al het sy  probeer om vir Chip, Dale, Alvin, Theodore en Simon as die oulikste eekhorinkies in te kleur. Ek kon geen aanklank vind by hulle stemmetjies nie. Die naaste wat ek aan hulle sou kom, was ‘n alleenlik-vroue-uitstappie na ‘n vertoning van die Chippendales baie jare later! Maar...die wiel draai.

Terwyl ek  die afgelope Sondag  met die afstandbeheer deur die kinderprogramme blaai sodat Boetatjie kan besluit wat hy wil kyk, val sy keuse op Alvin and the Chipmunks! En so sien ek hulle vir die eerste keer in my lewe!

Carine Badenhorst

Suikerbrood en Suurvye Carine Badenhorst_1