Seedinge

Net sodra ons dink dis nou die einde van die makriel word daar weer ‘n klompie gevang en waar wil jy beter nuus hê! Die afgelope naweek is ook nie sleg gevaar nie en daar is heelwat ander vis ingebring. Mooi romanne en silwervis dwaal so tussenin rond.  Goeie nuus is dat groter snoek beginne gesig wys.

Oom Pep…

Ons was daardie oggend vroeg by Jan se Klip, aan die Gordonsbaaikus. Hierdie was oom Jan se geliefkoosde hengelplek en soos afgelei aan die naam, ook vernoem na hom. Oom Jan was ‘n monster van ‘n mens, so groot as wat hy was so breed was hy, met arms erger as boomstompe, maar hy was die spreekwoordelike “gentle giant” Hy was ook die kundige onder ons  --  wanneer die vis gaan byt en in watter weer, dit was sy kos en hy het sy hengel ernstig opgeneem. Oom Pep weer, was ‘n ander soort mens. Van hengel het hy niks geweet nie en hy was altyd gereed vir ‘n grap met ‘n lag immer naby. Voor ons drie van die huis weg is het oom Pep gesê, “In for a penny, in for a pound”. Wat dit beteken het ek toe nie geweet nie en tot vandag toe is ek steeds nie seker nie! Ek was nog baie jonk en het net vir die lekkergeit saamgekuier.

Oom Jan het sy stok geneem en op die rand van die klip gaan sit. Hy het sommer hier voor hom gegooi. Ek kon sien daardie massiewe liggaam rus nou lekker. Dit was nie baie lank nie of oom Jan skree vir oom Pep hy moet die hotnotvissie agter in die dam vir hom gooi. Dié was net so entjie agter hom en het bietjie onder die krans ingeloop. Dit was dan ook die patroon vir die dag, behalwe dat daar so nou en dan ‘n mooi vissie op die rots beland het en oom Jan dit nodig gevind het om sonder uitsondering weer die instruksie aan oom Pep oor te dra. Wanneer daar nie vis te bêre was nie het oom Pep die wêreld in die nabyheid verken en getrou nader geloop om die trippie dam toe te maak. Ek het my eie ding gedoen en die krans opgeklouter om te kyk hoe dit verder aan lyk. Met die terugkomslag het ek oom Pep maar weer sien loop dam toe.

So teen middag het oom Jan geskree dat oom Pep die kos moet nader bring en moet sê, dit het lekker afgegaan. Na die ete het oom Jan eers behoorlik opgewarm en daar het al meer vis op die klip beland wat dam toe is.

Eers later die middag het oom Jan met ‘n vreeslike gesteun daarin geslaag om die stok neer te sit en op te staan. Na ‘n ordentlike uitrekslag het oom Jan so skuifel-skuifel dam se kant toe beweeg. Dis toe alle hel losbars. Op oom Jan se vraag hoe baie vis daar is het oom Pep geantwoord: “Ou Jan man, daar is eintlik nie vis in die dam nie. Ek het vergeet om jou te sê die dammetjie mond weer uit in die see en al die vis wat jy gevang het is weer terug see toe. Wonder hoeveel keer het jy dieselfde vis gevang!” Oom Jan het vergeet dis mos hoogwater en dan werk dit so.

Ek het oom Pep nog nooit so vinnig sien klim nie, en oom Jan het hom amper ingehaal! Na al die jare is hulle steeds vriende.

Groete, Seemeeu

 So moet ‘n snoek mos lyk! Trevor Korte het hierdie mooi bielie Vrydag Punt se kant toe gevang.