Badwater en vuil wasgoed

Waar het die fyngevoeligheid van ons nasie ontstaan?  Is alle mense so sensitief soos Suid-Afrikaners?  Het dit te doen met die vrywillige ontbanning van die bemanning van Jan van Riebeeck se vier skepe van hulle heimat en alles wat vir hulle bekend was?  Het hulle droefgeestig geraak al daardie tyd wat dit hulle geneem het om die wildernis in ‘n leefbare Kaap te omskep? Volgens oom Jan se skeepsjoernaal was hy  nie elke dag ‘n maklike man nie en op ‘n slegte dag het hy ook maar ‘n manskap na koning Neptune toe gestuur en eers daarna sy verslag aan die Here XVII gestuur. 

Blykbaar was nie al die verslae ‘n uiteensetting van ware gebeure nie.  Om enige laer posisie as die skeepskaptein en sy gesin te beklee en vir ‘n jaar lank op see aan die elemente blootgestel te word, nie seker of jy ooit weer jou voete op terra firma gaan sit nie, is genoeg om enige mens sensitief te maak. Voel jy dan op ‘n dag sand onder jou voete, bou jou kragte op met vars vleis, groente en soetwyn,  net om meegedeel te word dat daar geen terugreis gaan wees nie, moet beslis ‘n enorme effek op die psige uitoefen. 

Om voor jou, links en regs net ruigtes te sien en agter jou die see, en te hoor dit is waar jou huis voortaan gaan wees, moet sielsknakkend wees.  Om ‘n viriele jong man te wees, dalk met ‘n appelkooswang-nooientjie aan die anderkant van die wêreld, sonder enige moontlikheid van weersiens, moes ‘n tamaai klomp wrewel ontlont het.  Harry die strandloper was ‘n uitgeslape kalant. ‘n Entrepreneur, sou ‘n mens hom vandag kon noem. Sy ruilhandel het nie net proviand behels nie; hy het gesien daar was ‘n vrouenood onder die manne. 

Natuurlik sou die vreugdevure die manne se bloed tot kookpunt verwarm het met die koms van die Franse wat gevlug het weens die herroeping van die Edik van Nantes.  Ten spyte van hulle blanke halse en uitlokkende laggies het hierdie dogters egter hulle eie emosionele bagasie saamgebring. Ook hulle was ter wille van oorlewing ontwortel en het ‘n onsekere toekoms in die gesig gestaar. Alles wat hulle nodig gehad het moes uit rou stof  gevorm word. 

Die meeste van die nedersetters was glad nie so meedoënloos en hardvogtig teenoor die slawe in hulle diens het soos wat die uniform-manne was nie. Selfs onder die slawemeisies was daar goeie troumateriaal, maar weereens het ‘n slaaf ‘n trousseaukis vol emosionele bagasie gehad.  En so word ‘n nuwe nasie gebore met bloedlyne vol van frustrasie, minderwaardigheid, aggressie en arrogansie. Die Britte kom vryf ‘n eeu later sout in die helende wonde toe hulle die Kaap annekseer.

Daarna volg die een oorlog op die ander, nog meer frustrasie en aggressie. Daar is oor en weer beskuldigings van verraad onder mense wat veronderstel is om saam te staan. Kabinette kom en gaan en die agendas raak meer en meer duister vir die mense op straat. Die wette wat uitgevaardig word, raak plek-plek belaglik. Die soustrein kry maandeliks tien nuwe trokke by, gekoop van geld wat uit die middelklas gewurg word.  Elke nuusberig  en elke koerant opskrif bring frustrasie. En al wat ons het om teen in opstand te kom is die sosiale media-blaaie. Ons is so fyngevoelig dat ons reageer voordat ons die ware gebeure of die korrekte storie onder die knie het.  Die vingers op die toetsbord raak tien tweesnydende swaarde.  Niemand verdra gesonde debat nie, want dit is deur oorerwing nie in ons bloed nie.  Sommige mense gooi klippe in strate, steek aan die brand en breek af. 

Ons veroordeel hulle daarvoor terwyl ons self vuil wasgoed op ‘n publieke platform was en mekaar met snydende beledigings aanval, suiwer omdat ons ‘n veglustige nasie geraak het.  Maar, laat ons nou nie die baba saam met die badwater uitgooi nie. Sosiale media wat reg en opbouend aangewend word skep wonderlike geleenthede. Dis ‘n keuse: gebruik jy die badwater net vir die baba? Of haal jy die baba uit en gooi jou wasgoed daarin om te week.  Môre was dit soveel gouer en makliker en die baba is veilig. 

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1