Die weer

Die weer het verhoed dat baie bote see toe is en die vangste was maar treurig. Wanneer die onweer verby is mag die poppe weer dans!

Ek het hierdie twee broers by vriende van my ontmoet. Engelse besigheidsmense wat die naweek by die see kom kuier het om van die stres ontslae te raak. Kyk, hierdie manne is GROOT, hoor, maar hierdie bulletjies is omtrent vriendelik! Toe hulle verneem dat ek ‘n boot het moes ek plegtig belowe om hulle die volgende oggend saam te neem see toe, dit sou vir hulle ‘n nuwe ondervinding wees. Barry was die oudste en Derrick die jonger broer.

Die oggend vroeg al was ons op see. Die twee groot manne het uitbundig geskree wanneer die boot met spoed die swelling oorsteek. Verder het alle seetonele en  –lewe ‘n opgewonde bespreking tot gevolg gehad. Die res van die dag was dit die patroon. Toe ons terugkeer was die twee manne baie opgewonde en heel gelukkig met die dag se wedervaringe. Die volgende dag het ek Derrick belowe gaan ek hom weer see toe neem en die keer moes ek weer belowe om vir ons albei ‘n lyntjie saam te neem.

Met die eerste brander kon hy homself nie bedwing nie en het vrye teuels gegee aan die een opgewonde geskree na die ander  --  die man was in ekstase. Ek het besluit dat dit tyd was vir die gebruik van ons vislyne en die boot tot stilstand gebring. Hy het egter nie belang gestel in sy lyntjie nie en was heel gelukkig om alles om hom in  te neem. Toe ek hierdie helder rooi klipvissie oor die kant van die boot bring en die hoek wou uithaal het daar ‘n verandering by Derrick plaasgevind. Baie dringend het hy geskree,” please don’t hurt the fish, please!” Met elke beweging van die hoek het hy geril. Dis in elk geval een vissie wat ek altyd ongeskonde terugplaas in die water en het nie probleme daarmee gehad nie. Derrick het bietjie stiller geword. Die volgende vissie wat bo water verskyn het was ‘n bloukoppie, en soos alle hengelaars weet, goeie aas. Dis toe ek die mes nader bring om die vissie te vlek toe hierdie groot man langs my kom staan en weer eens in ‘n baie skril stem moes ek hoor,”please don’t do it  --  don’t hurt him. Get him back into the water!” Hy was baie, baie ernstig.

Dit was tyd om terug te keer en dit het ‘n ruk geneem voordat hy weer ontspan het. Terug by die huis het hy my nogtans bedank vir ‘n aangename dag.

Wanneer ek daarna weer ‘n vissie wil opsny vir aas kom hierdie groot man wat so fyngevoelig was se beeld voor my op en dis asof ek ‘n oomblik huiwer voor ek die mes nader bring.

Lekker vang, Seemeeu

Seedinge  2_200x180_crop_100_1