Gemoedsiektes - Wat is Gemoedsiektes?

Met verwysing na Julie as Geestesgesondheidsmaand, het prof PP (Py) Botha van Duikerstraat 24, Kleinbaai (Groenberg) die volgende artikel beskikbaar gestel, wat hy ook tydens ‘n Bietoubosbyeenkoms met die dames bespreek het:  

As gevolg van soveel wanpersepsies, vooroordele, wanopvattinge, stigmas, mites en onkunde, en ook as  gevolg van die feit dat dit ‘n siekte is, is die meer moderne benadering van die sielkunde en die psigiatrie om nie meer te praat van depressie nie, maar om eerder daarna te verwys as ‘n gemoedsiekte. Daar is in die verlede, en nog steeds, te veel verskillende betekenisse aan die woord depressie gekoppel, omdat mense ongelukkig onkundig was en nog steeds is oor wat die siekte werklik behels.

Dit is ‘n siekte, soos enige ander mediese siekte wat gediagnoseer moet word. Dit is nie net ‘n verskynsel wat verband hou met ‘n gevoel van neerslagtigheid nie. Niemand kan die siekte reg dink of met hulle gesindheid teenoor die lewe verander om daardeur te probeer om die siekte te genees nie. Te veel mense het al in die verlede te veel foute gemaak. Of die siekte is nie reg gediagnoseer nie of die siekte is nie reg behandel nie -  met oneindige tragedies wat voorkom kon word.

Volgens ‘n onlangse berig in die koerant het meer as 8000 mense verlede jaar in Suid-Afrika hulle lewens geneem as gevolg van een of ander variant van ‘n gemoedsiekte wat nie gediagnoseer en behandel is nie. Gemoedsiektes is gekompliseerd en moeilik om korrek gediagnoseer te word. ‘n Korrekte diagnose behoort te bepaal of die siekte unipolêr (op een pool) of bipolêr (op twee pole) is. Die diagnose moet ook kan aandui wat die vlak en variant van die siekte is en watter medikasie voorgeskryf behoort te word.

Gemoedsiektes hou verband met ‘n onstabiliteit van verskillende oordragstowwe in die brein. Hierdie biochemiese oordragstowwe help sodat boodskappe in die brein reg gekommunikeer kan word. Twee belangrike neuro-oordragstowwe, wat tussen die dendriete van breinselle voorkom, is serotonien en dopamien. ‘n Onstabiele serotonienfaktor het ‘n unipolêre gemoedsiekte tot gevolg. ‘n Onstabiele serotonienfaktor, sowel  as ‘n onstabiele dopamienfaktor, het ‘n bipolêre gemoedsiekte tot gevolg.

Die gekompliseerdheid van die siekte hou verband met die spesifieke variant wat gediagnoseer moet word. Is dit unipolêr (lig, distemies, matig, ernstig, baie ernstig), of is dit bipolêr (bipolêr 1, 2 of 3), of is dit gemengde episodes van gemoedswaaie, is daar hipomanie of manie teenwoordig, of is dit eufories of disfories, of is die siekte so ernstig dat dit as ‘n skiso-affektiewe siekte gediagnoseer kan word? Die oorsprong van gemoedsiektes is geneties, maar dit word gesneller en gestimuleer deur veral ‘n verskeidenheid stresfaktore. Emosionele stressors blyk van die hoofsnellers vir die ontwikkeling van gemoedsiektes te wees.

Die voorkoms van gemoedsiektes is vandag baie meer algemeen as voorheen, soveel so dat, volgens ‘n berig in ‘n onlangse koerant,  dit blyk dat meer as 50% van persone wat ongeskik vir hulle werk is, aan een of ander variant van ‘n gemoedsiekte ly. Enige mens kan ‘n gemoedsiekte kry, alhoewel dit meer algemeen by tieners, vrouens en ouer mense voorkom. Hormonale veranderinge by dogters tydens puberteit, hormonale veranderinge by vrouens - voor, tydens en na die geboorte van kinders, sowel as tydens hulle menopouse, veroorsaak dat hulle meer tot ‘n unipolêre gemoedsiekte geneig is.

Resente navorsing het aangedui dat, veral jong mense, wat oor ‘n lang tydperk aan die gebruik van dwemmiddels blootgestel is, ‘n groot risiko loop om ‘n variant van ‘n bipolêre gemoedsiekte te ontwikkel. Ouer mense word ongelukkig blootgestel aan ‘n verskeidenheid stresfaktore wat tot ‘n unipolêre gemoedsiekte aanleiding kan gee. Dit sluit onder andere in: verlies van ‘n lewensmaat, verlies aan status (veral by mans wat aftree), aftrede en finansiële tekorte, emosionele mishandeling (deur kinders en familie) en probleme met hulle gesondheid.

Tekens van ‘n gemoedsiekte by bejaardes is soms moeilik herkenbaar omdat mense geneig is om gedragspatrone soos klaerigheid, moegheid, swak eetlus, irritasies en slaapprobleme met die verouderingsproses te assosieer. Simptome van ‘n unipolêre gemoedsiekte sluit onder meer in: bedrukte gemoedstemming; swaarmoedigheid; belangstellings en plesier wat verminder; verandering in eetgewoontes; chroniese moegheid; gebrek aan energie; gevoelens van nutteloosheid; skuldgevoelens; slaaploosheid; fisiese traagheid; hoë irritasievlakke; swak konsentrasie; gedagtes rondom die dood. Die simptome van ‘n bipolêre gemoedsiekte is baie kompleks en baie moeilik herkenbaar. Die behandeling van gemoedsiektes behels nie net ‘n mediese voorskrif vir ‘n antidepressant nie.

Die behandeling van ‘n gemoedsiekte behels die volgende: Die korrekte diagnose, dit wil sê watter variant van die siekte  teenwoordig is; Die korrekte medikasie; Die psigoterapeutiese behandeling van die siekte; Psigo - opleiding: Die pasiënt moet die siekte verstaan en weet watter variant van die siekte teenwoordig is; Die behandeling is ‘n proses wat, afhangende van die variant van die siekte wat gediagnoseer is, oor ‘n redelike lang tydperk behandel behoort te word; Die siekte moet volledig behandel en gemonitor word om moontlike terugvalle of herhalings te voorkom; Die diagnose en behandeling van gemoedsiektes word veral deur sielkundiges en psigiaters gedoen.

Prof. P. P. Botha: Sielkundige (071-378-9674),

Duikerstraat 24, Kleinbaai (Groenberg)

Gansbaai Gemoedsiektes Internet foto_1