Whansies en Onsies

Vir solank as wat die aarde in die hemelsfeer rondomtalie sal daar nuwe woorde uitgedink word in al die tale van Babel.  “Onesies” en “ussies” is twee van die nuwer Engels-Amerikaanse innovasies wat glad nie goed op my woordoor val nie.  Om die Ingelse nie te hard in die gesig te vat nie - hulle dramos vals wimpers, vals haarstukke en toupette wat maklik deur so ‘n gesigvat kan verloor – probeer ek die terme verAfrikaans met my eie blitsvertalings. 

“Selfies” bly tog dieselfde in Engels en Afrikaans, maar wanneer twee mense ‘n slimfoon-selfportret wil neem, klink “Onsies” tog beter as die Engelse “Ussies.” Enkelvoud of meervoud, bly die resultaat tog maar ‘n groteske, vervormde beeltenis van andersins mooi mense. Dat mense die waagmoed het om ‘n selfie by ‘n Cirriculum Vitae aan te heg gaan my verstand te bowe. Die enigste suksesvolle aanwending van ‘n selfie, myns insiens, is om te dien as bewysstuk in die hof tydens aanrandingsake. Dit is verskoonbaar,  mits die agtergrond geloofwaardig is en die gepaartgaande woordewisseling met dieselfde selfoon opgeneem is. “Onesie” word in my woordeboek “Whansie” sommer net omdat dit oorspronklik is en lekker op die tong rol. Terselfdertyd wonder ek wat geword het van die oorsprong van die whansie, wat in Engels die “combination” genoem was; daardie aanmekaar slaappak met die stertflap wat ‘n paar eeue gelede deur mans gedra is. 

‘n Mens sien dit nog gereeld in cowboyflieks wanneer die manne hul boklere stroop en daar dop so ‘n gryswit of -pienk slaappak uit waarmee hulle onder ‘n saalkombers inklim.  Iewers in die verloop van die fliek gaan een of almal van daardie manne ‘n bordello binne, klim die trappe saam met luiddrugtige en oordadige vroue op en verdwyn agter  toe kamerdeure. En al wat ek in my verbeelding sien, is vuil mans in koperbaddens  vol  stomende, warm water! Gedurende die sestigerjare het die elegante en stylvolle  katpak (“catsuit”) op die loopplanke verskyn, nadat dit reeds sedert 1940 in flieks gebruik is as ‘n futuristiese drag.. 

My eerste katpak was ‘n rariteit, gekoop by ‘n wierokerige, eksklusiewe hippieboetiek.  Die paisley-ontwerp was in oorwegend rooi, oranje en pers, met spatsels van smarag, turkoois en koningsblou ; juweelkleure wat herinner aan ‘n duur Persiese mat. Die materiaal was sysag en glibberig. Die gefraaiingde het sy doel gedien as kopband,  skouer- of heupserp, na gelang van die geleentheid.  Eintlik het ek katpakke afgeskryf weens die ongemak daarvan, maar tog maak ek toe ‘n paar jaar later, toe katpakke losser van lyf geraak het, amper iets soos ‘n blou werkersklas oorpak, een  van ‘n mooie dieremotief  linnemateriaal. 

Ek ken my lyf, ek ken my patroon en sodoende maak ek en stryk ek en trek ek dit die volgende dag aan werk toe. Met my luiperd platformskoene en ‘n sedige rooi snyersbaadjie bo-oor. Ses voet vyf hoog stap ek in Pleinstraat op, links in Ryneveldstraat en op in Victoriastraat.  In die teekamer proes drie van my sewe manlike kollegas hul oggendkoffie op die mat uit. Kort na invaltydvra die oudste van die broeders “Het jy al vandag in ‘n spieël gekyk?”  Natuurlik het ek, toe ek my grimering aangesit het, maar ek stap tog kleedkamer toe, al voelende aan my hare en die nate van my katpak. Die oomblik toe ek my beeld in die lang spieël sien, trek my oë afwaarts. 

‘n Luiperd se gesig met twee groot, geel oë, kyk na my terug. Verdwaas, asof ek bloots op sy nek sit, hom tong-uit gejaag het deur Stellenbosch se strate en van plan was om heeldag met hom tussen my dye te werk. Om alles te vererger, loop die naat van die twee voorpante presies deur die middel van sy gesig, asof iemand ure lank gesukkel het om dit so te vervolmaak. Die gewurgde luiperd het die dag oorleef. Ek ook, danksy my selfvertroue. Die katpak het nie oorleef nie. Hy het kussingoortreksels geword.  En nou het ons die whansies.  Allerlelike, vormlose, slopgattige eenstukke wat net goed is om in te slaap of vloere te was, maar dan ook net as jy alleen is. Gemaklik? Dis debatteerbaar. Asseblief, bly tog net weg van selfies en onsies af as jy jou whansie aanhet!

 Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1