Die Overberg Bootklub is vanjaar vir die 4de keer die trotse aanbieders (en gasheerklub) van die “WPDSAA Bottomfish” Interprovinsiale Kompetisie te Kleinbaai. Op die spel is die jaarlikse gesogte Goue Medalje, wat elke span se droom is. Die prestige Openingsfunksie is op Dinsdag, 4 Augustus 2015 aangebied, waar die spanne en hul skippers bekendgestel is.
Hulle spog ook met ‘n Dame WP-span wat vir die eerste keer in 20 jaar aan hierdie kompetisie sal deelneem. Ses spanne sal hengelsake vanjaar vanaf Donderdag tot Saterdag (6 tot 8 Augustus 2015) op see uitspook.
Die onderskeie spanne is WP Seniors, WP Dames, WP Juniors, Oostelike Provinsie, Barbarians en Suid-Kaap Juniors.
“Ons is baie trots op drie van ons hengelaars wat by die WP-spanne ingesluit is,” sê DP Burger, voorsitter van die Overberg Bootklub.
“Baie geluk aan Amanda van Staden (Kapt) en Juanita van Zyl, asook Werner van Zyl wat onderskeidelik in die WP Dame- en WP Junior-spanne ingesluit is.”
Tydens die funksie is Johanna Le Roux gevra om die nuwe naamplaat van die klub se saal, “Le Roux-Saal” te onthul.
Die saal is na haarself en haar oorlede eggenoot, wyle Gerrie Le Roux vernoem. Sterkte aan alle deelnemers.
Hardus Botha
(Foto’s: Johan van Zyl)