Twee jong boere van ons omgewing, Rynhardt Koekemoer van Pearly Beach en Francois de Wet van Baardskeerdersbos, het die afgelope week die moordende Bergrivier aangepak ten bate van CHOC (Childhood Cancer Foundation).
Die fondsinsamelingsprojek het in die Paarl begin vanwaar van die deelnemers by die Markstraatbrug weggespring het. Die vaart het in Veldrif ten einde geloop. Orals langs die pad is daar by weldoeners aangedoen en saans is veilings gehou om broodnodige fondse te bekom om kinders, wat met kanker gediagnoseer is, en hulle ouers by te staan.
Die deelnemers het by talle skole langs die rivier aangedoen om leerders oor ‘n gesonde leefstyl en gevare van die gevreesde siekte in te lig. Rynhardt en Francois het reeds verskeie kere die Trans Agulhas wedvaart voltooi en hulle het besluit om hulle vaardigheid in te span tot voordeel van ‘n welverdiende saak. Die geld wat die span hierdie jaar ingesamel het, gaan aangewend word om veral huisvesting aan gesinne wie se kinders na Tygerberg hospitaal vir kankerbehandeling moet gaan, te bied. “Mens besef nooit die finansiële impak op ‘n gesin indien behandeling vir ‘n pasiënt benodig word nie. Nie net moet die ouers noodwendig van die werk wegbly om die kleinding by te staan nie, onkostes tydens hospitalisasie is enorm hoog, om nie eers van die traumatiese effek te praat nie,” sê Rynhardt. “Ons kry swaar vir 3 dae terwyl ons op die rivier is.
Dit is harde werk en die water baie koud, maar ‘n kind met kanker se lyding is veel erger. Daarom het ons besluit om ons gewig agter die fondsinsameling in te gooi.” Die span het ‘n reuse bedrag van R690,000.00 ingesamel en die geld is reeds aan CHOC oorbetaal, wat die fondse sal aanwend om nood te verlig. Wild TV Africa het ‘n span saamgestuur om die tog op die water mee te maak en die organiseerders vertrou dat van die beeldmateriaal eersdaags op Supersport te sien sal wees.