Vroulike valletjies

Ek het alles op skool geniet – behalwe leer.  Bedags was tyd vir  Landsdiens, sport, musiek, orkesoefening, debat en Volkspele, maar dit was ook die katalisators wat my aangemoedig het tot middernagtelike studie.  My liefde vir tennis het my afkeer van hitte ver verby geskiet. 

Daar was iets magies aan die lees van ‘n opponent,  die konstante, onmiddelike besluitneming saam met elke bal wat van haar raket af skil  en die uitdaging om heeltyd gefokus te bly, wat my adrenalien laat vloei het.  Daardie wete dat jy ‘n punt afgestaan het omdat jy konsentrasie verloor het en die gedwonge  psigiese herstel van jou ingesteldheid, was telkens ‘n vars kopspeletjie.  Ek het reeds op laerskool begin tennis speel, sommer in L.O. klere en die goedkoopste wit strandtekkies. Toe ek in die hoërskool vir ‘n span gekies word, moes ek egter ‘n tennisuitset kry. 

Die wit terylene-rok het Mamma self gemaak ; ‘n langlyf met plat plooie onder.  Ek moes myself eers bewys voordat ek regte tennistekkies kon kry en oor ‘n valletjiesbroek het ek en Mammie koppe gestamp. Eintlik weet ek nie waarom ek so daarop aangedring het nie, want die rok was so lank dat, sou ek op my kop staan, ‘n mens nognie my broek sou sien nie. Toe ek vir die eerste span gekies word, kon ek met trots op die baan gaan in regte tekkies met die fyn geel en groen strepies om die sool. Ek het my nuwe tennisrok self gemaak, met die “regte” lengte om ‘n valletjiesbroek te regverdig. 

Dit moes ek ook self prakseer, want die gekooptes was  net te duur.  Die spanning van die eerste broek se valletjies het nie voorsien vir die uiterste strek agter ’n tennisbal aan nie. Aan die einde van my eerste wedstryd het twee van die valle losgekom en ver onder my rok uitgehang. ‘n Stuk of ses jaar later, met valletjiesbroeke reeds van die baan af,  onthou ek hulle weer. Dit was die tyd van minirokke  en ek was  pas aangestel as die eerste vroulike werknemer tussen sewe mans.

By die Universiteit van Stellenbosh se Finansiële Afdeling, nie by een of ander panelbeater joint in ‘n agterplaas nie. Vervuil van feministiese selfvertroue, wat seker die oorwoë rede was tot die aanstelling. By die vorige werk was langbroekpakke aanvaarbaar, maar hier was dit beperk tot reis na die buite-fakulteite. Dames het nog daagliks broekiekouse gedra. Ek was oortuig dat  ‘n valletjiesbroek ‘n voorsorgmaatreël van  ordentlikheid tot die minis sou toevoeg.  Ook nie regtig nie, want dit was die tyd van galante mans wat geen vrou sou toelaat om iets van die grond af op te tel of hoog van ‘n kas af te haal nie. Ons almal, mans en vroue,  was elegant, ordentlik en gemanierd. Mammie het my met ‘n boek op die kop geleer staan, sit, stap en hurk. Net vir ingeval, om myself nie te verkommin nie, voorsien ek maar die valletjiesbroek by die nuwe rooi rokkie met galonversierde bolero.

Op daardie stadium het ek al vir jare ‘n sielsvriend gehad,  my identiese tweeling sonder familiebande. Ons het mekaar net gesien wanneer hy vir sake Kaap toe gekom het.  En Hennie Bekker het ten minste een keer per week op die sypaadjie oorkant die parkeerarea met sy wit Pirenese Berghond verbygestap – asemrowende prentjie.  Toe Jan dus op ‘n dag by my kantoor inbars met “Kyk buite!”  kyk ek sypaadjie toe vir die hond, maar sien niks.  “Nee man, kyk reg onder die venster!” 

Ek storm gang-af met my rooi pakkie en platformskoene. Die weersiens, ondanks ‘n vorige besluit dat ons paaie gaan skei, is oorweldigend en ek en Sielsvriend rondomtalie in mekaar se arms  op die klein stoepie voor die Registrateur se kantoorvenster.  Toe ons ‘n rukkie later almal saam tee drink, stap die Registrateur ons kantoor binne en sonder om te groet- heel teen sy grein- val hy weg: “Manne, ek het netnou die mooiste iets  in ‘n lang tyd gesien.”

Daarmee gee hy ‘n gedetailleerde beskrywing van my valletjiesbroek wat soos ‘n vuurtoring se lig voor sy venster om en om draai. My bloos was een met my tamatierooi bolero tot uitbundige genietinge van agt mans! Ordentlikheid het ook sy prys!!

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1