Klein bietjie stuitigheid

Die beste teenvoeter vir vandag se neerdrukkendheid wat tydig en ontydig teen ‘n mens se slape klop, is ‘n bietjie stuitigheid.  So in die geheim. Alleen.   Die paal-bo-water-feit is dat geen tweede persoon jou  uit die vaalte van jou gemoed kan lig nie, want blomme verwelk en tjoklits eet ‘n mens op nog voordat jy besef  jy het ‘n bietjie meer endorfiene afgeskei. Wyn gee ‘n dik kop, ‘n naweek weg lei altyd weer terug huistoe en ‘n durabele restaurant-ete neem die weg van alle voedsel deur die spysverteringskanaal.

Geen mens op hierdie aarde spring daardie oomblikke, dae, weke, maande of jare van swartgalligheid vry nie. Dit kan tydelik reaktief van aard wees as die reaksie op trauma van enige aard, of dit kan  diep gesetel wees as gevolg van omstandighede en gebeure van baie lank gelede wat nooit aangespreek is nie. Dit kan die gevolg wees van ons eie verkeerde keuses of dit kan die lading wees wat ander mense op ons geplaas het, waarvan ons nie eens bewus was nie. Daar is egter net drie kern-emosies  wat die oorsaak is van neerslagtigheid:  Vrees, Verwerping en Skuldgevoel. ‘n Pa wat sy werk verloor het, kom te staan voor vrees oor die toekoms, hy ervaar verwerping deur te voel hy was nie goed genoeg om sy werk te kon behou nie en hy ervaar ‘n skuldgevoel teenoor sy gesin omdat hy nie meer na behore vir hulle sal kan sorg nie. 

Dieselfde geld vir ‘n alleen-ouer. ‘n Leerder wat matriek gedruip het, ervaar self-verwerping (minderwaardigheid) saam met vrees en skuld. Die wyses waarop ons ons swarigheid van gemoed hanteer laat meeste van die tyd veel te wense na.  Mans is geneig om opvlieënd te raak, beskuldigings na gesinslede te slinger en die hasepad te vat na ‘n plek waar hulle glo hulle die omstandighede kan ontduik, al is dit net tydelik. Vroue is meer geneig om in hulleself te onttrek, ook met ‘n goeie skeut van irritasie vir alledaagse gebeure in die huis. Jongmense kry die los-my-net-uit-houding en vlug gewoonlik na plekke waar vergetelheid uit die totaal verkeerde bronne kom. Nee! Die uitdaging is om op ons sterkste te wees wanneer ons op ons swakste is. Gryp ‘n boek en ‘n pen en begin lyste maak met die hofies Vrees, Verwerping / Minderwaardigheid en Skuldgevoelens. Gaan haal aan by jou geboorte en lys elke vrees wat jy al ooit gehad het. Roep die omstandighede op, verwoord jou emosies. Dink goed na oor enige siekte wat jy daartydens  of direk daarna opgedoen het en skryf ook dit neer, want onverwerkte, onsigbare emosionele letselsmanifesteer in die liggaam. Fokus op hierdie projek  en voeg elke nuwe herinnering by die lys.

Eerlikheid teenoor jouself  is meeste van die tyd pynlik. Vir daardie oomblikke wanneer ‘n mens net voel om weg te kom van jouself af, dis dán wanneer ‘n bietjie stuitigheid goed te pas kom. Trek jou warm aan en gaan sit buite in ‘n ryp-belowende winternag om na die sterre te kyk. Absorbeer hul speelse flonkering teen die middernagblou fluweelhemel totdat jou bloed tintel vir die lewe. Gaan te kere op die maat van ‘n lekker stukkie musiek. 

Ja, dit geld vir mans ook! Pak ‘n mandjie en gaan sit iewers in die natuur , eet jou brood en drink jou wyn tot eer van die lewe.  Skryf iets wat jou beswaar op ‘n klip en werp dit met passie buite sig en uit jou hart. Spring op die bed soos ‘n kind as jy nie ‘n trampolien het nie. Soek ‘n sonkol, binne of buite, solank as wat geen oë jou kan bykom nie. Gee jou lyf -  of ‘n deel wat nooit son kry nie – vir die son en visualiseer hoe die warmte die koue kolle binne jou verhit totdat jy weer warm raak vir die lewe. 

Doen iets buite jou comfort zone, al is dit nietig, soos om jou heeldagskoene  uit te trek en kaalvoet langs die watersoom te loop. Dra iets piepkleins onder jou klere – of glad niks. Solank net jy daarvan weet.  ‘n Klein bietjie stuitigheid is genoeg om jou je ne sais quoi terug te kry.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1