As ek kon vlieg

Sodanig veg mense om roem en eer dat die Wright broers nie meer gereken word as die eerste suksesvolle vlieëniers nie. Of ‘n mens hulle konkoksie ‘n vliegtuig kon noem, is debateerbaar.  Twee jaar voor hulle geslaagde poging in 1903 het ‘n Duitse Amerikaner, Gustav Weisskopf  - hy het in Amerika Gustav Whitehead geword – sy Condor No. 21 vir een en ‘n half myl ver en 50 voet bo die grond gevlieg.

Dit was heelwat verder as Wilbur en Orville se paar honderd voet.  Om een of ander rede het die eer Gustav nie toegeval nie. Sy vliegtuig was blykbaar ‘n kar met vlerke. Is dit nie maar wat enige vliegtuig is nie?  Wat vir die Wright broers by ‘n speelding met roterende lemme begin het, gegroei het tot die ontwerp van sweeftuie en uiteindelik ‘n selfaangedrewe vliegmasjien, is vandag so algemeen soos die verandering van die seisoene. Wat maak dit dan tog nog saak wie die baanbreker op die gebied was? Ek glo nie dit is meer belangrik genoeg om in  skole se geskiedenisboeke aangeteken te wees nie. Soos wat die vliegtuie groter word, word die wêreld kleiner. Die aviasiebedryf  is ‘n kommoditeit so ontbeerlik soos ‘n tong vir draairoomys.  “Nee wat, ons vlieg sommer, dis vinniger, goedkoper en veiliger.”  Van die laaste een is ek nie meer so seker nie. Die lugruim is net te vol van mikrogolwe wat enige vlugroete in ‘n Bermuda-driehoek kan verander. 

Die goed val vandag net te vinnig, of verloor hulle koers. Die beheertorings se radar is klaarblyklik ook nie meer wat dit was nie.  As al die satellietgolwe ewe skielik moes verander in elektriese bedrading hier bokant ons in die blou,  sal daar inderdaad geen plek vir ‘n vliegtuig wees om ongehinderd te vlieg nie. Een na die ander sal hulle in die lug hang soos vlieë in ‘n spinnekopweb. ‘n Valskerm sal ook nooit as te nimmer deur daardie netwerk kan kom nie; dus sal passassiers net daar moet verbiltong, duisende meters bo in die lug. Maar ek wens steeds dat ek kon vlieg. Op my eie, geruisloos en verkieslik onopsigtelik. Ek kon daarmee tevrede wees om soms ‘n vlieg teen die plafon van sekere huise te wees, want ek wonder te  veel kere  politici, wie mens net op die televisie sien terwyl hulle hul kunsmatige toesprake lewer, lyk en praat wanneer hulle mens raak agter die deure van hul eie huise. Of raak hulle dalk nooit regtig mens nie?  Of wêreldbekende akteurs wat met hulle blink klere en natgelekte hare net die regte woorde op die rooi tapyt uiter. Hoe reageer hulle in hul mansions sonder grimering en met slofklere aan?  Ek sou ook graag ‘n arend wou wees met ‘n wye vlerkspan wat my op windstrome kan laat sweef regoor die hele aardbol. Ek sou al die riviere en woude volg  en wind-op beur om die stede te kan vermy  en ek sou  diep in ‘n bos, in een van die hoogste bome gaan rus om die woelinge op die grond dop te hou, my neusgate wyd sper vir die geur van kompos en kruie. 

Ek sou graag ‘n geluidlose by wou wees met ‘n onsigbare angel soos die van ‘n penisillien-naald.  Elke mens wat soveel as ‘n gedagte het om ‘n kind leed aan te doen, sou ‘n kap van my angel kry en genoeg van my gif om oombliklik en vir ‘n lang tyd in ‘n staat van lamheid te verkeer.  Ek sal hulle so verpes dat hulle naderhand sal smeek om sommer dadelik tronk toe te gaan. Maar ook daar sal hulle nie rus hê nie. Ek sou ‘n slim, vet cupidotjie wou wees en my onuitputlike bron van liefdespyltjies afskiet in die harte van alle verdienstelike gevalle wat perfek by mekaar pas sodat geen huwelik ooit aan stremming onderworpe hoef te wees nie. Bowe alles sou ek graag ‘n groot, sterk engel wou wees wat alle oorloë, terreuraanvalle  en geweld met ‘n enkele swaai van my brandende swaard tot ‘n halt te bring.  Daarvoor kan ek maar sigbaar wees – as ek net kon vlieg.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1