Dit moet seker maar die gedagte aan ‘n aankomende lente wees wat die woord ontluikend al heeldag na die voorkamer van my gedagtes dwing. ‘n Woord vol geheimenis, volrondswanger aan die verwagting op ontboeseming wat uiteindelik wasdom gaan bereik in die volmaakte. Terwyl ek van venster tot venster skuif agter die son aan, gewaar ek weliswaar niks van lente in die flouerige warmte nie. Lente is nog maar net ‘n gedagte. Die wind – of dit net ‘n luggie is, of ‘n volsterkte stormwind – is steeds snerpend. Die eienaardige verskynsel van die Suidoos wat hierdie jaar reeds in die hartjie van Winter al begin skouerstamp met die Noordwes, dra weerbarstig by tot die ysigheid van die Suidpool se kant af. Hy is mos eintlik veronderstel om lafenis oor die see te bring in die hoogsomer met die kwik wat jaar na jaar styg weens aardverwarming. Daardie tyd verwelkom ek hom ooparms en probeer hom soms nog vashou ook, maar in die winter is hy sommer net pleinweg geniepsig. As ek egter na my ou asempie se groentetuintjie neffens die wasgoedlyn kyk, is daar darem hier en daar ‘n groenigheid wat die belofte van Lente bokant die grond uitstoot. Terselfdertyd staan daar ‘n paar stoele boerboontjies wat al twee maande gelede swaar gepeul was.
Die ander lappie boerbone is geilgroen en veg om behoud van hulle blommetjies teen die aanslag van die muisvoëls. Hulle probeer weerbarstig om te ontluik, maar ek sien sommer hulle gaan nie die sirkel voltooi nie. Die ertjies, waarin die kleinkinders gewoonlik in die somer eers begin wei het, is vol peultjies, maar of hulle gaan boeppens maak, sal ons maar sien. Die natuur weet ook nie meer volgens watter seisoen hy sy blarebaadjie moet aantrek nie. Maar deurmekaar, al dan nie, is daar altyd iets aan die ontluik. Daar is oral, buitenstyd of nie, jong botseltjies en blaartjies, blommetjies en selfs vruggies wat gesigwys. Die behoefte om te ontluik, ‘n nuwe siklus te begin, is voortdurend daar. Jare gelede, toe ek ‘n boervrou was, het ek graag met die koms van Lente in Helderfontein se bos op die tapyt van dennenaalde gaan lê en kyk hoe nuwe varingblare ooprol. Wanneer ‘n sonstreep ‘n onbelemmerde pad deur die dennebome gevind het om so ‘n ontluikende plant aan te raak, kon ‘n mens met die blote oog sien hoe die groeiproses plaasvind. Teen die kliprantjie agter die bos het enkele struike skaamproteas (Protea nana) gestaan.
Hulle was vir my heilig in hulle beskeidenheid. Wanneer ek die eerste blommetjies van die seisoen kop omlaag tussen die fyn naalderige blaartjies raakgesien het, was dit asof ek ‘n kosbare juweel wat weggeraak het, gevind het. Al is dit vir my die mooiste proteasoort, kon ek dit nooit oor my hart kry om hulle af te pluk nie; dis asof ek hul skaamte eerbiedig het. Die ontluikende Lente was in die geure van die veld, in kakiebos en boegoe. Dit was in die bloeiselkleed van die perskeboom in die voortuin, maar die vruggies het nooit eers tot soveel as voëlpoeding ontwikkel nie. Dit is ongelukkig ook een van die wette van die natuur: nie alles wat ontluik kom tot wasdom nie. Hierdie waarheid tref my soos ‘n skoot yswater in die gesig toe ek oor die radio hoor daar word van Suid-Afrika gepraat as ‘n ontluikende land.
Nee! Nee! sê ek vir hulle in my gedagtes. Enige ander woord, net nie ontluikend met sy suggestie van rein en smettelose groei wat lei tot perfeksie nie. Noem die land ontwikkelend of groeiende of opkomende. Daar sal genoeg politici en ekonome wees wat regverdiging vir hierdie terme sal kan vind.
Vir my leke-oog en –verstand lyk dit egter na versinsels. Ek sal my in verwondering besig hou met die ontvouing van die nuwe Lente en die ontluiking van my drie pragtige kleinkinders. Hulle rol immers voor my oë oop soos die tenger en weerlose opgekrulde varingblaartjies in die onbelemmerde sonstrale van God se genade.
Carine Badenhorst