Ontluikend

 Ontluikend

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Dit moet seker maar die gedagte aan ‘n aankomende lente wees wat die woord ontluikend al heeldag na die voorkamer van my gedagtes dwing. ‘n Woord vol geheimenis, volrondswanger aan die verwagting op ontboeseming  wat uiteindelik wasdom gaan bereik in die volmaakte. Terwyl ek van venster tot venster skuif agter die son aan, gewaar ek weliswaar niks van lente in die flouerige warmte nie. Lente is nog maar net ‘n gedagte. Die wind – of dit net ‘n luggie is, of ‘n volsterkte stormwind – is steeds snerpend. Die eienaardige verskynsel van die Suidoos  wat hierdie jaar reeds in die hartjie van Winter al begin skouerstamp met die Noordwes,  dra weerbarstig by tot die ysigheid van die Suidpool se kant af. Hy is mos eintlik veronderstel om lafenis oor die see te bring in die hoogsomer met die kwik wat jaar na jaar styg weens aardverwarming. Daardie tyd verwelkom ek hom ooparms en probeer hom soms nog  vashou ook, maar in die winter is hy sommer net pleinweg geniepsig.  As ek egter na my ou asempie se groentetuintjie  neffens die wasgoedlyn kyk, is daar darem hier en daar ‘n groenigheid wat die belofte van Lente bokant die grond uitstoot.  Terselfdertyd staan daar ‘n paar stoele boerboontjies wat al twee maande gelede swaar gepeul was.

Die ander lappie boerbone is geilgroen en veg om behoud van hulle blommetjies teen die aanslag van die muisvoëls.  Hulle probeer weerbarstig om te ontluik, maar ek sien sommer hulle gaan nie die sirkel voltooi nie.  Die ertjies, waarin die kleinkinders gewoonlik in die somer eers begin wei het, is vol peultjies, maar of hulle gaan boeppens maak,  sal ons maar sien.  Die natuur weet ook nie meer volgens watter seisoen hy sy blarebaadjie moet aantrek nie.  Maar deurmekaar, al dan nie, is daar altyd iets aan die ontluik. Daar is oral, buitenstyd of nie, jong botseltjies en blaartjies, blommetjies en selfs vruggies wat gesigwys. Die behoefte om te ontluik, ‘n nuwe siklus te begin, is voortdurend daar.  Jare gelede, toe ek ‘n boervrou was, het ek graag met die koms van Lente in Helderfontein se bos op die tapyt van dennenaalde gaan lê en kyk  hoe  nuwe varingblare  ooprol.  Wanneer ‘n sonstreep ‘n onbelemmerde pad deur die dennebome gevind het om so ‘n ontluikende plant aan te raak, kon ‘n mens met die blote oog sien hoe die groeiproses plaasvind.  Teen die kliprantjie agter die bos het enkele struike skaamproteas (Protea nana) gestaan. 

Hulle was vir my heilig in hulle beskeidenheid. Wanneer ek die eerste blommetjies van die seisoen kop omlaag tussen die fyn naalderige blaartjies raakgesien het, was dit asof ek ‘n kosbare juweel wat weggeraak het, gevind het. Al is dit vir my die mooiste proteasoort, kon ek dit nooit oor my hart kry om hulle af te pluk nie; dis asof ek hul skaamte eerbiedig het.  Die ontluikende Lente was in die geure van die veld, in kakiebos en boegoe.  Dit was in die bloeiselkleed van die perskeboom in die voortuin,  maar die vruggies het nooit eers tot soveel as voëlpoeding ontwikkel nie. Dit is ongelukkig ook een van die wette van die natuur:  nie alles wat ontluik kom tot wasdom nie.  Hierdie waarheid tref my soos ‘n skoot yswater in die gesig toe ek oor die radio hoor daar word van Suid-Afrika gepraat as ‘n ontluikende land. 

Nee! Nee! sê ek vir hulle in my gedagtes. Enige ander woord, net nie ontluikend met sy suggestie van rein en smettelose groei wat lei tot perfeksie nie.  Noem die land  ontwikkelend  of groeiende of opkomende. Daar sal genoeg politici en ekonome wees wat regverdiging vir hierdie terme sal kan vind. 

Vir my leke-oog en –verstand lyk dit egter na versinsels.  Ek sal my in verwondering besig hou met die ontvouing van die nuwe Lente en die ontluiking van my drie pragtige kleinkinders.  Hulle rol immers voor my oë oop soos die tenger en weerlose opgekrulde varingblaartjies in die onbelemmerde sonstrale van God se genade.

Carine Badenhorst

 Ontluikend

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Under the Microscope: Must Love Ants!

Under the Microscope: Must Love Ants!

Meet Paramixogaster acantholepidis, a rare hoverfly with a fascinating connection to ants. 

Grootbos Foundation
From Fresh Eggs to Chicken Manure

From Fresh Eggs to Chicken Manure

Update from the Entrepreneurship Programme: This is Phakama, who sells freshly laid eggs in Pearly Beach.

Grootbos Foundation
Why You Don't Need to Explain Yourself When You Say No

Why You Don't Need to Explain Yourself When You Say No

You never validate YES. Why do you want to validate NO?

Daily Blog: 29 September 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 29 September 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

What an amazing day out at sea with multiple Bronze whaler sharks, southern right whales and Cape fur seals! 

A Little Candlelight Goes a Long Way

A Little Candlelight Goes a Long Way

A little warmth for your home.

October is Breast Cancer Awareness Month

October is Breast Cancer Awareness Month

At Pam Golding Properties Gansbaai, we believe in building strong foundations in our homes...

See All Articles