Vrydag, 4 September 2015 is Loslitdag - ‘n dag waarna jaarliks uitgesien word, maar ook ‘n dag van omgee vir gestremdes. Gansbaai Toerisme het laat weet hulle gaan, in same-werking met Gansbaai Munisipaliteit, sorg vir Herberg-aan-See Tehuis vir Bejaardes, Silwerjare Dienssentrum, Gansbaai Elim Huis en Butterfly Centre (Stanford).
‘n Staptog vir hierdie projek word vir Vrydag, 4 September om 07:00 beplan. Die stappers begin by Gansbaai SAPD en stap met Hoofstraat langs tot by die munisipale kantore waar donasies vir verspreiding ontvang sal word. Enige donasies in die vorm van nie-bederfbare voedsel, toiletware, skoonmaakmiddels, speelgoed, skryfbehoeftes, kunsbenodigdhede, komberse, linne, boeke en dies meer sal opreg waardeer word.
“Kom ons vat hande en hou Gansbaai se naam hoog met Loslitdag se welwillendheid!” Loslitdag staan bekend as die land se grootste fondsinsamelings - en bewusmakingsprojek vir persone met gestremdheid. Dis ‘n dag waarop ‘n beroep op almal in Suid-Afrika gedoen word om gemaklik, formeel of sommer net verspot aan te trek wanneer hulle werk toe gaan en om ook die amptelike Loslitdag-plakker te dra.
Vanjaar se tema is: Loslit Innie Lente. Volgens projekbestuurder, Celeste Vinassa, vier almal in die eerste week van September die aankoms van die lente. “Vanjaar het ons vyf plakkers en kan mense ‘n hele ‘bos’ plakkers koop,” sê sy. “Bemarkingsmateriaal en plakkers word gratis aan deelnemende organisasies verskaf en hulle betaal vir die plakkers nadat hulle die geld ingesamel het.” Die projek behoort aan en word beheer deur Die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid in SA en word deur die Edcongroep geborg. Donasies van R10 per plakker is belangrik aangesien hulle so die nodige fondse kan insamel ter ondersteuning van persone met gestremdhede.
Gansbaai Toerisme kan by 028-384-1439 vir meer inligting en plakkers teen R10 geskakel word.
Hardus Botha