Dit is sowaar “mostert na die maal” wat betref die Gansbaai Elim Huis se bedanking aan Roman Bay Sea Farm. Collin Wallis van Roman Bay Sea Farm en sy span het kort ná Mandeladag in gietende reën en met harde fisiese arbeid veel meer as hul 67 minute vir gemeenskapsdiens gedoen.
Hulle het Gansbaai Elim Huis besoek en besluit om ‘n veilige speel-area vir die kinders te skep. Eers is begin met die plant en verskuiwing van gras. Daarna was dit die aanbring en installering van parkie-speeltoerusting soos ‘n groot sandput, 2 swaaie, ‘n veilige buiteband-klimraam en 2 wipplanke. Dan het hulle ook ‘n muur met kinderhandjies beverf.
“Ek wil graag baie dankie sê aan Collin en sy span vir hul harde werk, asook aan die bestuur van Roman Bay Sea Farm vir die pragtige en welkome borgskap,” sê Joanne Swart van Elim. Gansbaai Elim Huis is in Kerkstraat 49, Gansbaai. Tans is daar 4 personeellede wat 21 kinders versorg. Joanne nooi belangstellendes uit om die Huis tydens besoekure (daagliks tussen 10:30 en 11:30) te besoek om hulself van die aktiwiteite en versorging van die kinders te vergewis.
Vir navrae oor Gansbaai Elim Huis, of vir donasies, kan Joanne Swart in Elim by 028-482-1988 of 072-109-1203 geskakel word.
Hardus Botha