Die snoek is nog met ons

In die vorige rubriek is gemeld dat die snoek nog met ons mag wees en behalwe vir ‘n rukkie se swak vangste (wat toegeskryf is aan die suidewind) is daar weer goeie vangste gemaak. Selfs mooi silwervis, PW’s asook hotties het kom aas vat. Nou moet ons maar skep terwyl die pap daar is …

Seeluis

Karakter, dis wat my ou beetletjie gehad het en met hom kon jy toor. Van hom moet julle hoor. Ou Seeluis kon enige plek loop en geen hengelplek was onbereikbaar nie. Natuurlik is daar baie gestoot  --  daarvan kon selfs my vrou en ons drie dogters getuig.

Soos afgelei kan word is dit ‘n baie ou storie wat lankal vertel is. By die Gruis, anderkant Uilenkraalsmond lê die Ronde-klippe (ons benaming), sulke dakhoogte ronde klippe wat jy moet aandurf om by jou bestemming uit te kom. Met        laagwater ry jy seelangs, op die harde sand, waar die water nog plek-plek lê en opdam. Hoogwater is dit jy en die klippe en natuurlik, in my geval, ou Seeluis. Wanneer die wiele die klippe begin aanvat om bo uit te kom is daar ‘n oorverdowende geraas soos die onderstel gebombardeer word. Buiten ‘n duik hier en daar was daar gewoonlik geen ander skade nie. Wanneer jy die “pad” bo bereik moet jy gedeeltelik op die middelmannetjie ry wat die Landrovers jou gelos het. Dit gaan dan heel skaflik totdat die spore deurmekaar loop en ou Seeluis se onderstel op die middelmannetjie vassit terwyl die ou breëbande alkant bly hang. Met ‘n bietjie rondskommel en gelig van die ou kanniedood vir beter vastrapplek is jy weer vort.

 Die Damme, verder aan, het ook gesorg vir drama. Daar was ons met al ons hengelgereedskap, asook die visstokke, vasgemaak op die dakrak, en die res van die stokke sommer by die oop vensters ingesteek wat ons soos ‘n reuse-ystervark laat lyk het. Die sand het gewissel van baie hard tot vassit-sag. Jy vorder vinnig én stadig  --  en dit sonder om jou voet van die petrol te haal! Skielik, voor ons was ‘n stroom water, eintlik ‘n baster riviertjie. Dit het see-in geloop en ons was op voluit op pad. Die wal het verhoed dat ons dit alles betyds kon waarneem. Toe ons volspoed oor die wal vlieg en met ‘n gespat van water weer op ons wiele beland, het baie goed  gelyk gebeur. Eers die gestamp van onder, toe die gestamp van ons koppe, water teen die ruite sodat jy niks kan sien nie, visstokke wat in alle rigtings swaai en ou Seeluis se bagasiebak wat wyd oop spring.

Maar ou Seeluis voel vere en ons laat waai! Ek moes my kop by die venster uitsteek om te kon sien want die klap voor my het oopbek die lug ingetroon. Wal-op was dit weer ‘n gestamp en steeds kon ek nie waag om in die sagte sand stadiger te ry nie. Met die gehop het die ouens almal oorkruis in die kar gesit/ lê. Die gapende bek van ou Seeluis, asof hy hyg na asem en die stokke wat in alle rigtings wys was beslis nie ‘n alledaagse gesig nie. Net ou Seeluis sou dít oorleef en het ons weer veilig tuis besorg.

Lekker vang, Seemeeu

Seedinge  2_200x180_crop_100_1