Gansbaai SAPD het seker gemaak dat hulle gedurende Vrouemaand sigbaar was. ‘n Tydjie gelede het hulle in Gansbaai, Masakhane en Blompark rondgery en “cub-cakes” aan dames vir Vrouemaand uitgedeel, wat breë glimlagte tot gevolg gehad het.
Onlangs het hulle weer besluit op ‘n vriendelike “vroue”-padblokkade oorkant Gansbaai SAPD. Slegs motors met dames in is ewe formeel afgetrek, waarna ‘n polisiedame hulle ingewag het. Dit is kostelik om te sien hoe die dames in die motors se verbaasde (bekommerde?) gesigs-uitdrukkings met breë glimlagte vervang word. Kapt Gerda Groenewald en haar span het behoorlik bontgestaan om soveel as moontlik motors af te trek.
Onder andere is brosjures van Hermanus, Stanford en Gansbaai Maatskaplike Dienste, wat handel oor vroueregte, uitgedeel, asook brosjures oor die seksuele misbruik van vroue, met die opskrif: “Break the Silence on Sexual Offences”. Knap gedaan, Kapt Gerda en jou span, knap gedaan!
Hardus Botha