Rasiegenerasie

Dit is hoekom hulle dit deesdae ‘n rasie noem : dis ‘n uitbundige rasery onder die dekmantel van ‘n singery. In my skooldae was dit maar presies dieselfde. ‘n Aanmoedigende geraas vir jou span se deelname op die veld voor jou. Dit het nie verander nie;  dis weliswaar een van die min goed wat behoue gebly het.

Terwyl ek in die voertuig met ‘n hekelwerkie vir my man by die dokter sit en wag, glimlag ek al die pad en sing hier en daar die refrein van ‘n Afrikaanse liedjie saam. Ek knikker my kop saam met die polsende ritme wat die dorp vul. Dis Vrydag en tyd vir die laaste voorbereidings vir Saterdag se interskole teen Villiersdorp. Die pawiljoen is gepak met leerders in hulle helderblou skoolklere. Die stemmetjies wat wysieloos, maar helder op die wieke van die Noordwes sweef, beloof om korte mette te maak met die naweek se voorspelde koue en reën. Ons het nooit iets soos interskole geken nie.

Ons het net een maal per jaar ‘n groot gebeurtenis gehad met gróót geraas: atletiek. Dit het op die dorp se rugbyveld plaasgevind. Alles wat iets was het op die dorp se rugbyveld gebeur: kermisse, sport, Republiekvieringe, landbouskoue, Volkspele, vendusies en saamtrekke waarvan ek nie eens die name geweet het nie. En vir diegene wat ou Mal Manie met die groot bord om sy nek en luiende klok gemis het terwyl hy straat-op en straat-af gestap het om die komende gebeurtenis te adverteer, het daar die oggend van die okkasie ‘n motor met ‘n luidsprekerstem deur die dorp gery. Daarbenewens, sou jou geheue jou verlaat, kon jy nooit as te nimmer die luidsprekers se weergalm oor die dorp mis terwyl die atletiek aan die gang was nie. Nog minder die aanmoedigende geskreeu en die dreunsang, want tydens atletiek was daar twee kompetisies tussen die twee spanne: een op die veld en een op die pawiljoen. Dit was soos die herinnering van die kerkklok op ‘n Sondag. Jy móés net gaan en ondersteun wie en wat daar te ondersteun was. Ons het teen die einde van die vorige jaar al in die sangklas begin oefen aan die bekende atletiekliedjies, want ons moes dit sing, nie skree nie; dit was een van die kriteria waarvolgens die Dirigentebeker beoordeel was. 

Een van die geheime wapens van elke span was eers in die week aanlopend tot die atletiek geopenbaar: nuwe liedjies. Dit is onder groot geheimhouding deur die hele span geoefen. Die spanleiers het vooraf ooreengekom wie in die onderdorp en wie in die bodorp sou oefen. Natuurlik was daar verspieders en spioene, want wat was dan lekkerder om op die dag van die kragmeting een of meer van die ander span se liedjies, wat verwerk was om jou eie span te pas, te kon sing.  En wanneer hulle hoofdirigent ligvoets van ergelikheid van die pawiljoen af spring en na die beoordelaarstafel draf, weet almal wat hy sê: “Meneer, daai was ons liedjie daai, ons het hom geskryf en hulle het dit gesteel, Meneer!” 

Die ander geheime wapen was natuurlik die temas wat die verskillende spanne gekies het om uit te beeld wanneer die optog net na middagete te voorskyn gekom het. Die eer om die vlotte te bou, het die seniors in die skool toegeval. Groot en mooi vlotte, versier met honderde crinkle paper blomme, vars varings, klimoppe, wilgertakke, veldblomme, groot, geverfde figure en ander rekwisiete wat die tema vereis het. Die oogvangers op die vlotte was die mascots, wat gewoonlik voorskoolse kleuters was, getooi in net en satyn soos mens dit net in die bioskope gesien het. Dit was ‘n majestieuse aankoms wat enige hedendaagse koninklike troue of militêre staatsgreep na ‘n natgereënde kinderpartytjie sou laat lyk het. Die pawiljoen het gesidder onder die toejuiging en aanmoediging. Die klavier het onder die begeleier se hande uit geskud soos wat honderde voete op die meranti stellasie gestamp het. Tydens die finale en met elke nuwe telling wat op die tellingbord aangebring  was, kon jy voel hoe jou stembande protesteer. Na afloop van die verrigtinge het jou sing van Die Stem of die skoollied soos ‘n larangitis-gans in jou eie ore geklink. Opgeraas. Glad nie reg vir Sondagskool die volgende dag nie. 

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1