Soos verlede jaar was ‘n besoek aan die 3de Cape Floral Eks-po by Mega Park in Bredasdorp weer eens die moeite werd. Die ekspo is verlede Donderdag deur Niki Glen, Programdirekteur: Volhoubare Toerisme Vennootskap geopen en die ekspo het tot Sondag geduur.
Vanjaar se fokustema was “Verander jou lewensuitkyk” met verwysing na die bewaring van fynbos. Met die instap by die enorme saal het die hoofuitstalling dadelik die oog gevang. Vanjaar se “berg”-uitstalling het pragtig vertoon, met ‘n rookmasjien bokant die waterval wat vir ‘n mistige voorkoms gesorg het. ‘n Wandelpaadjie het die besoeker oor en om die “berg” geneem, wat die besigtiging van fynbos baie vergemaklik het. Die uitstalling van die Suid-Afrikaanse Blomme Vereniging se Nasionale Blomme-rangskikking Kampioenskap was weer eens fenominaal.
Die res van die vele aktiwiteite, lesings, praktiese demonstrasies, werkswinkels en tentoonstellings wat oor die 4 dae aangebied is, was baie interessant en insiggewend. Daar is nie verniet gepraat van “Gaan bos….Gaan fynbos” nie! Dit was een groot plesier om daar te kon kuier - omring deur verruklike mooi fynbos en blomme.
(Foto’s deur Jane Bailey)
Hardus Botha