Seisoen van Hoop

Sal ons van vreugde sing omdat Lente hier is? Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing? Toe ek ‘n laerskoolkind was en op die eerste dag van September met ‘n bos blomme vir Juffrou skool toe gestap het, was dit van daardie dag af aan Lente. Ons kon op daardie dag gewone klere dra, die vrolikste wat in ons kaste was. Soms was dit nodig om‘n dik tweed winterjas en reënjas bo-oor aan te trek, maar dit was steeds Lente. Net omdat dit September was. By die huis moes die buitedeure steeds toe bly sodat die hitte van die houtstoof die hele huis kon warm maak. Ons het steeds saans,, soos in diepwinter, in die komyntjie voor die stoof saamgebondel sodat ons met warm lywe tussen die koue lakens kon inkruip. Dit was steeds winter, maar in ons harte was dit Lente, want dit was Septembermaand. Iemand wat baie slim was het dit uitgedink en die storie die wêreldoor versprei. En almal het dit geglo, maar eintlik is die wisseling van die seisoene net so onbepaalbaar soos die bymekaarkom van die Atlantiese en Indiese oseane waaroor daar nog steeds tou getrek word. Die natuur het ‘n harmonieuse en vloeiende jaarsiklus wat geen mens kan karteer en vaspen nie. Getrou aan sy ewige behoefte om in beheer te wil wees, het die mens die seisoene dus na goeddunke in maande opgedeel.  So word ons kinders dit ingeprent,  met tekeninge van ‘n somer-, herfs- winter- en lenteboom. Die somerbome word gewoonlik ingekleur met bloedrooi appels of oranje lemoene, wat eintlik herfs- en wintervrugte is,  maar ons laat hulle begaan. As ouer of onderwyser wil ‘n mens ook nou nie dom voorkom as ‘n Graad R’tjie jou heeljaar in die supermark na die vrugterak sleep en jou wys hoe verkeerd jy was nie.  Die kunsmatigheid wat die wêreld oorspoel het, dra verder daartoe by dat seisoene haas ondefinieerbaar geraak het, veral vir hulle wat in graniet en glas vasgevang is. Tussen ‘n twaalfverdieping woonstel en ‘n twintig verdieping kantoor sien min  oë regtig die blomverkopers se helder spatsels op die sypaadjies raak. Al sou dit hulle dwalende gedagtes tot helderheid skok, bly die verskeidenheid ook heeljaar dieselfde, kunsmatig gekweek in tonnels, seisoenloos. So, wat bly dan oor van Lente? Hoe weet ‘n mens sy het aangekom? Terwyl die son rooi opkom, die dag begin met Suidoosreën, opgevolg word met warm bergwindtoestande en donderweer, die wind teen noen Noordoos draai  en laatmiddag omsit na ‘n ysige Noordwes met ‘n paar harde buie, waar gaan soek ‘n mens vir Lente?  Beslis nie ver nie, want hierdie seisoen is ‘n sinnelike een. Dis in die enkele dapper blommetjies wat reeds die velde langs ons paaie versier; dis in die reuk van die kruiebossies; dis in die ylingse voëlgesang wat saam met die skamerige son deurbreek.  Maar meer nog, is dit in die hart van die mens. Lente is die seisoen van Hoop. Ons weet daar gaan bloeisels aan die bome kom, al sien ons hulle nognie; ons weet die grasperk gaan groener raak; ons weet die vinke gaan begin nes bou; ons weet die skilpaaie en slange gaan begin loop; ons weet die saadjies en bolle wat ons in die grond gesit het, gaan hulle groen bogronds wys. Ons weet ons gaan ons dik klere uittrek en die son op ons velle voel en ons sien uit na die nuwe energie wat dit gaan bring. Een van die vroegste definisies  vir hoop in die Oxford Dictionary is dat dit ‘n veilige eiland in die middel van ‘n woesterny is. Die Amerikaanse skrywer Barbara Kingsolver het geskryf: , "The very least you can do in your life is figure out what you hope for. And the most you can do is live inside that hope. Not admire it from a distance, but live right in it, under its roof".  En watter beter tyd daarvoor as juis Lente – iewers in September wanneer alles vars en nuut raak.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1