Op Vrydag, 4 September 2015 was dit behoorlik “Loslitte in Hoofstraat af”. Gansbaai Toerisme, in samewerking met Gansbaai munisipaliteit, het ‘n Loslitdag-staptog vanaf die SAPD-kantore tot by die munisipalekantore gereël.
Die staptog is goed ondersteun, met die polisie, brandweer en verkeersmanne wat met hulle voertuie “saamgestap” het, met sirenes wat almal van die staptog in kennis gestel het. Vanjaar se insameling van nie-bederfbare kos, toiletware en speelgoed, is vir Herberg-aan-See Tehuis vir Bejaardes, Silwerjare Dienssentrum, Gansbaai Elim Huis en Butterfly Centre (Stanford) ge-oormerk.
Vanjaar se tema vir Loslitdag was Loslit Innie Lente. Gansbaai se DA-tak, Biblioteek, Gansbaai Toerisme, Gansbaai SAPD en munisipale personeel, DA-raadslede en ander onganisasies, asook die hardwerkendes vir die Woekermark in die Pretoriussaal het almal mildelik bygedra. By die munisipalekantore het Kat Myburgh, Areabestuurder van die Overstrandse Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie, almal verwelkom en ook bedank vir hulle goeie bydraes. Later die dag het skoolkinders ook met hul bydraes opgedaag.
Die gesellige “Loslit Innie Lente”, soos net Gansbaaiers dit kan doen, het suksesvol verloop, met almal wat dit terdë geniet het - maar ook vir die lekkerte van gee vir diegene wat dit nodig het.
Hardus Botha