“Ons het die 4x4 dag vir ons Amarok-kliënte gereël om hulle beter met hul fantastiese voertuie te vereenselwig,” sê Erno Coreejes van Rola VW Hermanus en ook organiseerder van die 4x4 dag te Strandskloof Karavaanpark van Tot en Isabel Fourie.
“Ons voertuig is die markleier in elke opsig en daarom is dit noodsaaklik vir ons dat ons kliënte verstaan waarom die Amarok so ‘n fantastiese produk is.” André de Villiers, wat die voertuigbestuurders met ‘n lesing en praktiese demonstrasies kom touwys maak het, is verbonde aan Volkswagen Suid-Afrika en ‘n welbekende in Suid-Afrikaanse 4x4- en veldry-kringe. Hy kom uit ‘n engineursagtergrond en is deeglik op hoogte van die tegniese aspekte van 4x4 ritte. Hy is ook die aanbieder van die gewilde Safari 4x4 Roetes op KykNet. “Ons is deur Erno van VW Hermanus genader om die dag vir die groep te reël,” vertel Isabel.
Die manne is behoorlik deur haar en Tot bederf. Smaaklike verversings het met hul aankoms op die sowat 15 manne gewag, met die dag wat met ’n skaapspitbraai afgesluit is. Na die kort lesing van moets en moenies, is die manne na die 4x4 hindernisbaan op Tot en Isabel se plaas en kon André behoorlik demonstreer wat hy tydens die lesings aan hulle oorgedra het. Strandskloof Karavaanpark is ideaal ontwikkel, met ’n netjiese terrein vir groepe besoekers met karavane, byeenkomste en dies meer.
Kontak gerus vir Tot of Isabel Fourie by 082-721-4381, of stuur ‘n e-pos aan strandskloofpark@omail.co.za. Hulle webtuiste kan by www.strandskloofpark.co.za besoek word.
Hardus Botha