Skuus, man!

Somtyds beland mens met die hengelstories in ongemaklike situasies en ek wil graag beskryf wat my eenkeer oorgekom het. Enige hengelaar assosieer ‘n hengeldag by die see asof alles die rustigheid self is en dis mos juis waarom so ‘n dag jou siel die nodige bevrediging gee.

Hoor bietjie hier. Dit was jare terug en ek het so ‘n ou “scrambler”-motorfietsie gehad wat toegerus was met al die nodige om die ongemaklikste hengelgaatjie te bereik. Ek het egter ‘n probleem gehad want ek het my rug beseer en die ou ding het geskud soos my ouma se melkkarring. Maar see toe wou ek. Gelukkig het ek ‘n maat gehad wat ‘n groter, opregte “scrambler” gehad het en hy het met ‘n voorstel vorendag gekom. “Kyk”, sê hy, “hierdie bike van my is gemaak vir hierdie toestande” (en hier verwys hy na die Plaat).”Kom ons ruil en dan ry jy myne. Ek het geen probleem nie en sal joune met die stokke en al die visgereedskap self bestuur en sal dit geniet”. Hy verseker my dat sy “shocks” geen probleem met die Plaat se gate, klippe en sand sal hê nie. “Maar”, vervolg hy, “moenie op sy “clutch” ry nie, jy moet hom heeltyd “ref”. So was ek nie gewoond om te ry nie, maar aan die een kant het ek nogal uitgesien daarna.

Dit was nie lank nie of ons het die ruil gemaak. My maat is nog nie behoorlik op die sitplek nie of hy verdwyn om die draai. Ek het op die ou groot geel “scrambler” geklim en die storie so gevoel-voel. Ek onthou wat die man gesê het van nie oormatig “clutch” te moet gebruik nie. Ek “ref” so paar maal en weg is ek!

Die fiets vlieg deur die gate en my rug voel reg. Deur die sand kos dit nogal rigting hou en met die nodige geraas (ref!) is dit hiernatoe en dan weer skuins soontoe, maar ek vorder.

Toe ek die volgende draai vat, skrik ek my boeglam. Reg voor my loop ‘n hengelaar rustig in die vroegmôre  met sy rugsak en visstok oor die skouer. Ek was reeds op hom en stop was onmoontlik  --  wat kon ek doen? Ek laat sak my kop, kry my rug in rat, ek “ref” dat al wat voël is, gee pad en ek ry, ongelukkig, al agter die man aan wat die bult uit hardloop, en vir sy lewe uit die pad probeer bly van hierdie malman van wie hy nie ontslae kan raak nie. Ek belowe, dit was nie met opset nie maar daar was geen manier wat ek die fiets in ‘n ander rigting kon forseer nie.

Uiteindelik het ek tog die geel ding see se kant toe kon draai.Ek het dit vermy om die uitasem hengelaar te konfronteer en het so gou moontlik gee pad. Langs die see het ek die fiets so goed moontlik versteek en gehoop die man sien my nie. ‘n Sak sinkers op jou kop omgekeer is seker nie van die aangenaamste nie! As jy hier lees, ek vra mooi om verskoning. Seemeeu

Seedinge  2_200x180_crop_100_1