Met die waters wat verby is

Toe ek vir die eerste keer in verbasing staan en kyk het na die waterval buite Niewoudtville  wat, asof uit die niet, in die ravyn neerstort, het ek gedink : nooit weer sal dieselfde water oor daardie rots tuimel nie.  As my voete Elim se aarde raak, loop dit outomaties na die watermeul toe.  Wanneer  die waterwiel krakerig en ritmies draai en met onuitputlike energie bakkie vir bakkie water opskep om dit net weer uit te gooi, kom dieselfde gedagte by my op. Net hier en daar in ons wye land is hierdie waterwiele nog te sien, gewoonlik om krag op te werk vir groot houtratte binnekant wat meewerk dat koringkorrels tussen twee maalstene in meel verwerk word. Waterwiele is reeds in die Middeleeue gebruik om krag op te wek vir allerlei vervaardigingsaanlegte. 

Chinese goudsmede het dit gebruik om hulle blaasbalke aan die gang te hou; saagmeulens kon oorskakel na groot wateraangedrewe lemme om boomstompe op te saag. Buiten vir die maal van graan het die klereindustrie soveel baat daarby gevind dat boere hul saailande omgeskakel het in weilande vir hul skape. Die wol, wat eers deur mense getrap was om dit te was en saam te pers tot ‘n filtmateriaal,  kon , danksy die waterwiel, nou met meganiese hamers gekompakteer word in verskillende diktes  materiaal. Die klere- en materiaalindustrieë het letterlik ‘n ontploffing beleef.  Net voor die Industriële Rewolusie in 1800 was daar nagenoeg ‘n half miljoen waterwiele wat twee en ‘n kwart miljoen perdekrag kon opwek. En hier sit ons, met ‘n kragtekort en ‘n watertekort vir hopeloos te veel mense. Hierdie keer is dit nie Jan van Riebeeck se skuld nie. Dit is Eva en Adam se skuld toe hulle van die Boom van Kennis se vrugte geëet het.  Dit kom nou daarvan as die mensdom slimmer raak as wat hy veronderstel was om te wees. 

As daar iewers ‘n huisie op ‘n heilige stukkie grond is, iewers in ‘n koel bos waar ‘n goeie stroompie water heeljaar vloei, laat weet my sodat ek my noodsaaklikhede kan begin inpak.  Ek sal my eie waterwiel prakseer.  Maar... ongelukkig is daardie waters waar rus en veiligheid is, ook verby.  Daar is geen omdraai meer nie. Dit is die éên tragedie van hierdie wêreld: wat verby is, kry mens nooit weer terug nie. Jy kan kompenseer en improviseer,  maar nooit weer dieselfde as die eerste keer kry nie. Met die mens is dit presies dieselfde.  Jy kyk na jou pasgebore baba en ervaar ‘n sekere emosie, maar alhoewel jy nog ontelbare kere na jou kind gaan kyk, is daardie eerste oomblik met die oorweldigende emosies vir ewig verby. 

‘n Mens kan die grootsheid van die oomblik weer in jou gedagtes herleef, maar jy sal nooit weer daardie hartstogtelike opwelling van dankbaarheid en liefde, verweef met ‘n intense beskermingsdrang,  kan  kopieer nie.  Om dieselfde rede kan ek nie begryp waarom mense herhaalde kere lus kry vir trou, dan skei, met ‘n ander trou en weer skei en die proses weer van vooraf  herhaal nie.  Daar kan tog geen groter oomblik van menslike gebondenheid  wees as ‘n eerste huwelik  nie, veral nie wanneer daar ‘n gesin uit die huwelik gebou word nie. Daardie water is ook deur die wiel om nooit weer terug te kom nie.  Veel erger nog : die water het gewoonlik vir almal in so ‘n gebroke gesin opgedroog, behalwe vir die een wat aanbeweeg het na die volgende wiel met ‘n sterk stroom water.  So skep ons dorslande en droë rivierlope waarvan die bogrond in legkaartstukke gebars is. 

Een na die ander droog mense se lewensstrome op en is daar geen water om hulle meule te laat maal nie.  Die Boom van Kennis se vrugte was te aanloklik en soet en die mens was net te gulsig. Hoe gelukkig kan ‘n mens wees om nog steeds jou voete in die water van jou eie waterwiel te kan lawe terwyl jy terugdink aan die kere toe die winters maar swak gereën het en ander kere toe die wiel gebreek het. Die waters wat verby is, moes elders in ‘n ander ou se akkertjie gaan neersyg en dit is ook goed so.

 Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1