Marog, veldkool en suringmelk

Daar is egter één skepseltjie wie ek met ‘n kulinêre deernis onthou.  Sheilagh het oor my pad gekom toe sy en Boy Verniel in die werkershuis langs Helderfontein se dam ingetrek het. Hulle het self nie geweet waar hulle aan mekaar gekom het nie, maar Sheilagh moes Samaritaanse bloed in haar gehad het. Boy Verniel het ‘n dubbelgewrigtige loop op hom gehad wat geen skaaptrop uit ‘n brandende stoppelland sou kon jaag nie. Dit sou ‘n aardige gedoente gewees het om hom en die Engelse baron-buurman op Vredehoek te sien resies hardloop, want laasgenoemde se bene was skewerig met staalgoed van alle soorte aan mekaar geheg na die soveelste motorfietsval. Boy se werk was om die melkkoeie twee maal per dag tussen die melkstal en die veld te kry.

Die res van die tyd was hy om sy huisie besig, meestal om op ‘n stoel agter die son aan te trek. Vir Sheilagh het ‘n mens nooit naby die opstal gesien nie, maar op ‘n oggend was sy by die agterdeur, haar onderbene toegefrommel in ‘n veels-te-lank-langbroek onder  twee rokke en ‘n trui met net een knoop. Die kopdoek was bont en helder rondom die klein gesiggie, verplooid van ‘n fel Kalaharison. Sy wou net vra of sy van die misbredie in die voortuin kon pluk vir gaarmaak. Met my seën dat die swerm bye op die stoep haar nie sal takel nie, is sy om die huis. Later die middag bring sy vir my ‘n proeseltjie van haar bredie in ‘n wit enemmelbakkie met blou en rooi blommetjies om die rand. Haar ogies raak weg tussen nog meer plooie toe sy sien hoe ek haar brousel geniet. Sy is meer vertroud met die rooi marog – meer bekend as die hanekam – en sy het steggies daarvan ingelê in Boy se tuin. Toe Boy vir haar gesê het van die groen marog, wat ons misbredie noem, wou sy dit ook op die proef stel. Toe hulle twee jaar vantevore uit Namaland weg is, het hulle ‘n goeie voorraad marogsaad en gedroogde blare gehad. Die saad was gebruik as pap wanneer die meel- en mielievoorraad op was. Die blare word bredie saam met ‘n stukkie vleis, of as dit “dunmaand” is, met tamaties. Altyd ‘n gebraaide ui of twee by en ‘n gedroogde groen krui. As ‘n mens nou ‘n Oxo blokkie het, raak hy eers lekker oor ‘n stywe pap en baie gesond, so vertel sy my.

Sheilagh het ‘n ewige ergenis gehad met die eende, makoue en ganse. Wanneer sy hulle oor die kweekgras sien aanstap het dam toe, het sy hulle soos ‘n kwaai tokkelos verwilder. Die arme goed het later besluit om maar padlangs te loop tot bo by die pad en die dam van daardie kant af te betree. Daarmee het Sheilagh geen probleem gehad nie. Waarom, het ek pas ‘n week na die misbredie-bredie uitgevind toe sy weer met die einste enemmelbakkie op die agterstoep staan. “Hotnoskool” sê sy. “O, die veldkool daar teen die damwal?” vra ek en verstaan opeens haar hatigheid teenoor die watervoëls. Sy kliek haar tong op ‘n vreemde manier: “Hotnos, nôi, as dit nie vir die Hotnos (Hottentotte) was nie, sou g’n mens geweet het mens kan die goed eet nie.” As jy so sê, Sheilagh. 

Mens pluk hom in sy blomstadium, anders is hy te hard, maar nou kom die dommes en hulle pluk wateruintjies ook met blomme aan. Nee, volgens dié Namavrou moet ‘n mens weet hoe jy uit die veld uit moet eet. Die veld sorg vir jou, maar jy moenie roekeloos met hom omgaan nie. 

Die groenteskotteltjie is berei van braaiuie, veldkool, aartappel, tamatie en het ‘n ondertoon van tiemie. As ek die smaak kon beskryf, sou ek sê: veldvars. Sheilagh het ook my verhemelte ingelyf met die smake van suringmelk (melk wat met suring aangedik is) en heuningbier. Menige namiddae het ek en Sheilagh voor haar huisie op die verslete motorkarsitplek gesit, elkeen met ‘n beker sterk, swart  Sturka koffie terwyl Boy Verniel met sy verkeerdomknieë ‘n vurk of graaf in die grond probeer kry het. En as die draadlosie op die kombuistafel reg gespeel het, het sy my gewys hoe om stof uit die Strandveldgrond te riel.  

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1