Die viswater wag

Die kabeljou is aan die woel en as jy hulle soek en boonop wil deel in al die ander vis wat nou gevang word, hou jou visgereedskap byderhand en neem deel aan die pret, by  die huis sit is uit!

Haai!   Hoop dit gebeur nie met jou nie……

In die swelling het die haai duidelik vertoon. Asemwekkend het hy vlak voor ons verbygeswem. Dit was gerusstellend om te weet ons hengel vanaf ‘n paar rotse, afgesny van die land en hy kon ons nie daar bykom nie. Slegs een keer het hy belangstelling in ons getoon toe hy op ‘n roman aanspraak maak en ons met slegs die kop aan die hoek gelos het.  Sy massiewe vin wat net-net bo die water uitgesteek het, het ons egter daaraan herinner dat hy steeds met ons is. Tog moes ons sy grasie bewonder.  

Agter ons, in ‘n poeletjie, het ons vis gelê. Ons sou hulle moes inryg vir die terugtog en die gedagte aan die haai het my onrustig gestem. Die seewater wat ons omring het was met die groei heelwat dieper as toe ons daar aangekom het. Jan het begin praat oor sy vorige ondervindinge met haaie en hy kon dalk aangedik het, maar sy stories was allesbehalwe gerusstellend. Saam het ons uiteindelik besluit om pad te gee en elkeen se vis is ingeryg en om die lyf vasgemaak. Met ‘n terugkyk na waar ons die haai laaste gesien het, is ons die water in.

Voor ons het ongeveer veertig meter se loop gelê. Weens die malende water was daar nie veel te sien nie, bowendien het die riwwe dit feitlik onmoontlik gemaak om jou balans te behou. Die vis wat ons saamgesleep het, het dit nie makliker gemaak nie. Die twee van ons was voor met Jan, die ouer een, wat gevolg het so goed hy kon. Net die gedagte aan die haai en die bloedspoor wat die vis gelaat het was genoeg aansporing vir ekstra spoed, riwwe of te not. Die wal het vreeslik ver gelyk, maar ons het so gou moontlik daar probeer kom, amper paniekerig om uit die haai se gebied te kom.

Toe gebeur dit! Van agter af skree Jan aanmekaar, en die man klink vreesbevange, “Haai! Haai!” Ons raak verwilderd en hardloop teen mekaar vas en vir ‘n oomblik was ons ineenge-strengel. Boonop trap ek toe in ‘n gat en klou aan my maat vas, sodat hy soos ‘n drenkeling met my begin stoei om weg te kom. Dis eers toe ons Jan se bulderende gelag hoor dat die besef tot ons deurdring dat dit maar sy manier is om ‘n grap te maak.

Ons het tog die wal in rekordtyd gehaal en kon sien hoe Jan, slap van die lag, nie eens probeer om uit die water te kom nie. Duistere gedagte, was die haai maar naby hom…

Groete, Seemeeu

Woensdag het Dixie Walsh die manne lelik laat les opsê toe sy hierdie mooi silwervis van 3.25 kg. vanaf die boot Releks 2 gevang het. Dit sê sy, gaan beslis in haar “bragboek” ‘n ereplek kry. Mooi, so!