'n Ontploffing van iets moois

Net so ‘n kleinbietjie af en toe kry ek ‘n lus om die stalletjies op markpleine deur te loop. Alles is mooi en kleurvol van dak tot voetsool uitgestal en die Afrikamusiek trommel in vreemde sleutels en tydmate. Klere waai in die wind rond en kindertjies speel tussen stringe krale. Die stalletjiehouers loer jou skepties-verwagtend aan. Net ‘n paar waag dit nader wanneer jy by ‘n spesifieke item vassteek en dan met mening.  Die drie fluweel-en-kant jurke vang dadelik my oog en dit is ‘n stilstand werd. Granaatrooi, avokadogroen en middernagblou, al drie my kleure. Vanuit die donker agter sy negosieware kom klim ‘n man in my persoonlike spasie en besing die voortreflikheid van sy produk met ‘n knoffelasem in my gesig. 

Terugtree – dit het ek al geleer – help nie.  Ek haal my selfoon uit en gee ‘n paar drukke op die sompompie. “Dit is waarvoor ek dit self kan maak” in Engels, natuurlik, en ek wys hom die bedrag. Hy wil begin kibbel, maar dit is die één ding wat ek verfoei. ‘n Mens het jou prys en klaar.  Wat is die betekenis van kibbel oor ‘n prys?  Ek wens iemand kan my ‘n bevredigende antwoord gee. Vir my lyk dit na een of ander kinderspeletjie, ‘n mors van tyd en so voorspelbaar soos dag en nag. Ek wou nog nooit iets so graag gehad het dat ek hierdie speletjie oorweeg het nie. Dis ook nie asof ek so verleë is oor die fluweeljurke nie. Ek belowe om teen oppaktyd terug te wees vir die rooie, teen my prys. Hy soort-van stem daartoe in. Nodeloos om te sê: toe ek teruggaan, wapper net die bloue en die groene aan hul houtstokhangers. Die ding met plattelandse markpleinwinkeltjies is dat dit jaar-in en jaar-uit dieselfde bly. Soos die rakke van Spar, OK en al die rampatjaniewinkeltjies. Skommel bietjie hierdie kant toe, bietjie daardie kant toe om die oog te probeer verlei, maar steeds dieselfde. Ordinêr in verveligheid.  Wat ek egter geweldig mis, is die Suid-Afrikaanse element. My oë bly soek na ‘n groot, ronde skyf in die kleure van ons landsvlag wat uitskree: “Trots Suid-Afrikaans!”  Bestaan hierdie kenteken nog of sien ‘n mens dit net op die uitvoere van ons roumateriale wat uiteindelik weer hierheen terugkom gemerk Made in China? Of Taiwan, of Indië? Wat ‘n perfekte dag sal dit wees wanneer net een werklose persoon in ‘n huishouding op ‘n Saterdag sy of haar eie produk op die dorpsplein kan verkoop!! Op ‘n mark waar die stalletjiehouers eksklusief Gansbaaiers sal wees. Of Caledonners op Caledon en Kleinmonders op Kleinmond. Elke dorpsmark volgens sy produkte en kultuur en nie die oordadigheid van ‘n vraghouer uit die Ooste nie. Dit mag miskien ‘n droom van my wees, een waar daar inkomste vir werkloses gegenereer kan word;  ‘n Xanadu waar al die bevolkingsgroepe soos een groot familie byeenkom met ‘n gesamentlike missie: om  vooruit te gaan, al kruipend as dit moet. Die realiteit is egter ligjare ver van hierdie droom af. Eerstens is dit asof niemand werklik die lewensvatbaarheid daarvan kan visualiseer nie; hulle sal eerder bedel en steel as om hulleself te bemagtig. Tweedens maak die wette meer deure toe as oop en derdens wil dit voorkom asof  niemand deesdae meer onder wil begin om te probeer om bo uit te kom nie; liewer bo begin en hard grondwaarts val.

Tot ek op ‘n dag, in die middel van die week,  afkom op ‘n konsternasie op die grond aangrensend aan die plaas Dallas. Massiewe goudgeel sonneblomme en bloedrooi papawers staan die veld vol, op lang stokke geplant. Tussen hulle ontplof alles wat iets is in nog meer helder kleure. Klere hang soos wasgoed aan drade wat tussen die blomstele vasgemaak is.  Groter as lewensgroot bakke, vase, skottels en kruike in skalkse kleure en ontwerpe skel teen die groen van die landskap. 

Mense skarrel om hulle stalletjies opgerig te kry terwyl ses sterk manne die banier span: Trots Gansbaai – ‘n herwinnigsprojek. Die selfoontjie lui langs my bed  en ek is half ergerlik, want die droom is verby en ek het nie kans gekry om deur hierdie unieke mark te stap nie.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1