Brandewyn vir Nagmaal?

My ma het my so goed grootgemaak dat ek, die dag toe ek getroud is, honderd persent seker was dat ek en my nuwe man op pad was na ‘n Suidsee paradys vir ‘n lewe wat uit een baie lang wittebrood sou bestaan. Ek was so naïef soos Eva voor die appel. My Adam was al dik geëet aan die verleidelike kennisboom se vrugte en sy sin om rondom ‘n onnosel vroutjie te kloek het vinnig getaan. Manlief het ‘n strategie vir homself uitgewerk wat my alleen gelos het om aan die spreekwoordelike sak sout te eet. Wanneer hy kwart voor vier sy koffie kom drink het, het hy die kombuis ingestap met die aura van ‘n weglê-werfhen. Sonder dat ek nodig gehad het om te vra, of hy nodig gehad het om te sê – wat hy in elk geval nooit gedoen het nie – het ek geweet wanneer hy op die kuier uit was. Die dorp was te naby. Die see was ook te naby. En oral langs die pad was drinkebroers wat daardie tyd van die dag lug-op gekyk het vir enige streep wat na ‘n Boeing lyk. Die Strandveld het nie ‘n Boeing-roete gehad nie,  maar vir ‘n rondloper boer op pad na die buurman se watergat is die naaste Evkom- of telefoondraad genoeg van ‘n streep . Dinge het begin handuitruk toe die manne besluit het dat Sondae die ideale dag was om die week af te sluit, of die nuwe week te begin onder die groot Spidergumboom op ons werf.  Die eerste Sondag het dit my nognie gepla om alleen kerk toe te gaan nie, maar van die derde Sondag af het my wange begin bolstaan.

Nagmaal was om die draai en daar was geen twyfel dat ons dit saam sou bywoon soos wat ons vir amper tien jaar voor ons troue gedoen het nie. “Sê net vir jou pelle hulle moet na kerk eers kom, asseblief!”

Maar hoe korter die tyd geraak het, hoe gryser het my man se Sondag-aura geword. By die tyd toe ek moeg gesmeek en dikbek die werf uitry dorp toe, het die trane vrylik geloop.  Toe ek Mierkraal verbygaan, kom die eerste voertuig van voor af en kort agter sy stofstreep, die tweede voertuig. Ek weet niks wat die predikant gesê het nie en ek het die brood en wyn by my laat verbygaan, want dit was nie ‘n dag vir boetedoening en vergifnis nie; dit was ‘n dag van vergelding en wraak.  My siel was pikswart terwyl ek met die 3-liter Cortina oor die klippies-grondpad huiswaarts skeer. Die swart hond  staan stert-tussen-die-bene doer anderkant op die werf toe ek in ‘n bank stof voor die agterstoep stilhou. Soos in ‘n Wilde Weste kroeg sit hulle langs my kombuistafel rondom bottels brandewyn en Coke.  ‘n Klomp Cowboys, luidrugtig van die versterkwater. Met hierdie manne moet ‘n mens nou nie mors nie, want hulle is op die bakleistadium. Die Inspector en Paddatjie sit met hulle sonbrille op. Ou Wel se neusvleuels span wyd soos hy probeer om ‘n woord uitgehakkel te kry. Lang Jan Pan probeer ewe respekvol opstaan, want sy ouers het hulle goed geleer, maar hy hang halfpad in die lug en val terug op die stoel toe hy met die vuurvonke in my oë bots. Almal probeer my gulhartig groet, maar Vaalkorhaan maak die fout van sy lewe deur te vra: “Het jy Nagmaalwyn gebring?  Ons Nagmaal brandewyn raak nou min. Het die dominee vir ons ook gebid?”  Ek gooi my kerkroklyf tussen hulle in, gryp die volste bottel brandewyn en smyt dit flenters onderkant die stoep. Dit was ‘n gevaarlike en ongehoorde ding vir ‘n vrou om te doen “Uit! Almal van julle, uit!” gil ek voordat die ander bottels ook grond toe trek. Frans was die enigste een wat die waagmoed had om sy  mond in apologie oop te maak, maar ek help hom sommer aan sy broek en hempskraag van die stoep af. Terwyl ek van my kerkklere ontslae raak, hoor ek die voertuie ewe suutjies die werf uitry.  Gelukkig het hulle nie die kerk se soetwyn gaan steel nie, want Paddatjie het nog ‘n goeie voorraad Nagmaalbrandewyn op Waenhuiskrans gehad.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1