Pearly Beach Hengel- en Ontspanningsklub se hengelaars het tydens ‘n onlangse Interklubkompetisie teen Alpha Hengelklub en Weermag Hengelklub seker gemaak hulle palm die gesogte Interklub Trofee in.
Die Interklubkompetisie het te Pearly Beach plaasgevind en die uitslag (gemiddelde gewig per klub) is soos volg:
Pearly Beach - 0.537kg; Alpha - 0.298kg; Weermag - 0kg. Knapgedaan. Pearly Beach!
Die uitslag van individuele hengelaars is soos volg: Jacques Viviers (1ste prys, asook die swaarste sak); Mario van der Westhuizen (2de); Tony Hoogendijk (3de); Freddie Vercuil, enigste lid van Alpha (4de); Wessel Fourie (5de, asook die Senior wenner); Alida Strydom (Dameswenner).
Hengelkaptein Philip Fourie sê daar het 104 hengelaars deelgeneem, met 14 visse wat ingeweeg is, ondanks swak weersomstandighede en sterk wind. “Na die inweegsessie is daar heerlik saamgekuier tot laataand toe,” sê Philip. Die klub se volgende kompetisie sal op 14 November plaasvind.
Belangstellendes om by die klub aan te sluit, kan vir Philip Fourie by 076-069-6815 kontak.
Hardus Botha