Doef-sjoef!

Doef-sjoef!

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Wanneer ‘n mens in jou veertigs is moet al jou struikelinge en skandes mos dig bewaar bly. Veral as jy ‘n man is, tref hierdie egosindroom jou mos sommer tot in jou sestigs. Maar wanneer jy gespaar bly om te klassifiseer as ‘n senior burger, maak dit tog nie meer saak nie. Dis mos nou die tyd wanneer ‘n mens terugdink aan al die blapse en daaroor kan lag. Dis nou bygesê as jy geseënd is om op die stoep te sit met jou eerste en alste lewensmaat  met wie jy  hierdie ondersonsies gedeel het. 

As ‘n mens jonk is, word jy mos vies vir al die dinge wat jy nie aan jou lewensmaat verander kan kry nie, want, al spreek jou mond die teendeel van onvoorwaardelike liefde, het elke vrou maar die moederinstink in haar om te dink sy kàn haar man na haar hand leer soos wat sy met die kinderjies maak. Soms jubel haar hart wanneer sy dink sy het dit reggekry. Met die volgende oortreding van dieselfde aard, is sy so in haar ego gekrenk dat sy vir dae opblaas voordat sy ontplof. Sy skel, dreig om te loop, loop dalk regtig en skei ook sommer later. Net oor sy haar man nie verander kry nie. Daar is wysheid in die wyses se raad wat sê jy moet eers besluit of jy na ses maande nog steeds gaan ly weens ‘n oortreding, voordat jy met ‘n bekgeveg begin. Ek is gladnie eens ‘n bekvegter nie, want hoe meer teëpraat of flou verskonings ek kry, hoe kwater raak ek. En as ek kwaad raak, soek ek ‘n wapen; dus bly ek liewer stil en maak maar net seker van my wapen. So gebeur dit weer een middag met koffiedrinktyd dat hy met sy kuier-aura die kombuis instap. Met ‘n kwaaddoenman werk dit mos so: sodra hý weet dat jý weet hy is op de kwaaddoen uit, dan doen hy dit mos éérs. Blykbaar om die moeilikheid wat hy gaan kry, die moeite werd te maak.  Daardie aand raak dit laat.

So laat dat die Lister enjin in die rondawel leegloop. Middernaglaat. Met ‘n olielampie op die telefoonrakkie in die gang, gaan lê ek maar in die bed en luister na die stilte van die Strandveldnag en my babaseutjie se rustige asempie. Ek slaap nie, want ‘n mens het mos ‘n bekommernis ook oor jou wat nie voorsien vir slaap nie. Dan hoor ek die Cortina van ver af oor die gruispad aankom. Die enjin se geluid wissel tussen versnel en spoed verminder, so al asof die bestuurder aan die slaap raak en sy voet lam word op die petrolpedaal. Hoe nader die dreuning kom, hoe kwater word ek, deels ook maar van verligting omdat hy darem die huis gehaal het. Die bakkie vrek twee keer op die afdraand vanaf die pad tot voor die agterdeur. 

Toe ek die agterdeur oopsluit en oopmaak, is ek net betyds om te sien hoe Kaiings, die swart hond, sy baas onderstebo spring binne in die bakkie. Daar lê hy, uitgestrek onder die hond, met diepe waardering vir die hond se liefdevolle ontvangs. My oog vang die groot plastiese melkbeker wat vir die volgende oggend se melkery op die kombuistafel reggesit is. Die duiweltjie op my skouer por my aan en ek maak soos hy sê. Ek skiet twee liter koue water in die bakkie in. Die hond tjank en trap verwilderd om omgedraai te kry en by die deur uit te kom. Die baas gaan aan’t vloeke dat die werf weergalm. Met die besef dat ek my hand totaal oorspeel het, klim ek by die klein seuntjie in sy bedjie. ‘n Mens kan nooit weet hoe wraaksugtig ‘n man kan raak in so ‘n toestand nie. Ek wag...en wag. Dan hoor ek “doef-sjoef, doef-sjoef” in die gang. 

Teen die lig van die lamp in die gang, kom die behoeder van die huis handeviervoet die kamer binne, met een voet slepend, soos ‘n bok wat se boud morsaf geskiet is. Iemand klop aan die agterdeur – wat steeds wawyd oopstaan. Dis Charlie: “Noi, die baas het geroep ons moet kom melk, maar daar’s nie diesel in die enjin nie.” 

Carine Badenhorst

Doef-sjoef!

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

HOME AFFAIRS DATES FOR MAY 2026

HOME AFFAIRS DATES FOR MAY 2026

The Department of Home Affairs Mobile Unit will be in the Overstrand during May 2026.

GGAP Brings Art to Life at Living Wetlands Festival, Groeneweide

GGAP Brings Art to Life at Living Wetlands Festival, Groeneweide

GGAP had a gorgeous day at Groeneweide on 1 May!

R3,375,000: 2 Bedroom House For Sale in Perlemoenbaai

R3,375,000: 2 Bedroom House For Sale in Perlemoenbaai

Perfectly positioned within walking distance of the sea and less than 1km from the heart of Gansbaai...

The Hidden Pattern Behind Belonging and Self-Worth

The Hidden Pattern Behind Belonging and Self-Worth

There is a pattern many don’t recognise while they’re in it.

Maandfunksie en Prysuitdeling - 16 Mei 2026!

Maandfunksie en Prysuitdeling - 16 Mei 2026!

Kom geniet ’n aand van lekker kos, goeie musiek en vriendskap by Birkenhead Boot Klub!

Laerskool Gansbaai vier 120 Jaar!

Laerskool Gansbaai vier 120 Jaar!

Kom vier saam met ons by ons spesiale Gholfdag, ’n dag van pret, samewerking en skooltrots!

Laerskool Gansbaai
See All Articles