Hartklop van Verlatenis

Daar is ‘n paar dinge wat ek graag nog sou wou doen as dit binne my vermoë was. Ek sou die 4x4 wat ek nie het nie wou pak en op ‘n verlatenistoer gaan. Aanvanklik nie eens baie ver nie, want hulle is orals. Ek sou dit wou doen soos wat Johan Badenhorst vir Voetspore ( hoekom is dit voetspore as hulle meganies toer?) aanpak: met vooraf navorsing oor elke donkeroog huis wat ek op my roetekaart sou aanteken.  Nie ruïnes  of bouvalle nie,want hulle is reeds dood, maar daardie steeds woonbare huise wat met ‘n hulpeloosheid roep na iets wat lewe om hulle leë kamers te kom vul. Ek wil oor ‘n drumpel onder ‘n dak instap, daar waar ‘n stukkie energie van die mense wat daar gewoon het nog skamerig rondhang. ‘n Verlate huis spel vir my die woord “tragedie” uit. Hartseer, eensaamheid, ontvlugting van iets, iemand of ‘n emosie wat ‘n las geword het. As dit nie so was nie, sou iemand nog steeds daar gewoon en geleef het. Eens het iemand daardie huis gebou,  om die enigste rede dat mens ‘n huis bou: vir ‘n gesin om in te woon. ‘n Hele paar gesinne kon dalk oor ‘n lang tyd dieselfde huis bewoon het, dalk van generasie tot generasie. 

Maar iewers het iemand besluit om die huis te ontruim en dit agter te laat. Die “hoekom” daarvan fassineer my. As ‘n mens met die trein binneland toe ry, staan die meeste kleiner stasies se rooisteen-stasiehuise in ‘n streep langs die treinspoor weerskante van  die stasiegebou of die beton perron van ‘n “siding.” Jy sien nog meer verlatenes  oor die Karoovlaktes. Meeste van hierdie geboue groet jou soos ‘n blinde persoon : met ‘n kierie teen die skeen. Hy wonder wie jy is en jy wonder waarom hy blind is. Die samelewing rondom  ‘n stasie het uit drie vlakke bestaan.  Die boere was die rykes. Hulle het die meelskure van die land volgehou, hulle het die pastorie se kaste en die basaartafels gelaai. Na hulle moes daar opgesien word. Dorpenaars was die middelvlakmense. As ‘n dorpsgesin bevriend was met ‘n boeregesin het hulle meer aansien in die dorp geniet. Dan was daar die stasiemense wat gestigmatiseer was volgens die roet van die stoom-lokomotiewe. Net soos mense van die Afdelingsraad se padkampe geassosieer was met die stof wat op hulle opslaanhuise aangepak het. In 1977 tydens my eerste sensusopname in die landelike gebied van die Strandveld, was die opdrag om geen bouval of gehuggie oor te slaan nie en daarvoor het ek vir my nege groot gebiedskaarte van die relatief klein landoppervlak wat aan my toegesê was, van die Staatsdrukker af bestel. Natuurlik was helfte van hierdie punte nie meer toeganklik nie, maar dit het steeds bobbejaantrap geverg om die meeste verlatenes  te kon bereik. Vandag staan hulle sommer neffens die paaie. Dis daar waar ek wil gaan vertoef en voel hoe die hart van daardie huise klop. Soms is ‘n verlate huis so vriendelik dat dit jou nooi om jou slaapsak oop te gooi en sommer ‘n vuur op die vloer aan te pak. So ‘n huis is gewoonlik ook rustig en stil in sy ontvangs van kuiermense. Dan kry mens die teenpool daarvan: ‘n huis wat jou met die gefladder van vlerke bo jou kop en ‘n geritsel van iewers op die grond en skaduwees wat verkeerd val, inwag. Gelukkig het ek nog net een keer die belewenis van ys teen my ruggraat af in ‘n verlate huis ondervind. Dit was toe ek onwetend op die presiese plek gestaan het waar die vrou van die huis 2 jaar vroeër deur haar man doodgeskiet was. Elke agtergelate, ontruimde huis het sy eie energie, goed of sleg. Sy eie stories en intriges.  Hy leef omdat hy nog leefbaar is. Dis hoekom hy sy onsigbare arms uitsteek na verbygangers soos ek wat die romantiek deur die ruitlose vensters sien. As hy nie vinnig genoeg nuwe voete en asems binne sy mure kry nie, hou hy vas aan die voete en asems van sy vorige bewoners. Juis dit is vir my die enigma : Hoe klop die hart van ‘n verlate huis?

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1