Mooiboetie wil potbrood hê

Mooiboetie was iémand – wie ek nooit ontmoet het nie - se mooie boetie en as hy so vars van die Kaap af gekom het met sy spierwit vlootpak en –kep met die goue strepe op die epoulette, dan was hy ekstra mooi. Mooiboetie was te mooi om mens te wees, maar hy het ‘n gereserveerdheid aan hom gehad soos ‘n verdedigings-advokaat. Hy het nie links of regs gekyk vir die meisiekinders wat langs hom flou geval het nie, net voor hom. So, dat ‘n mens regtig begin wonder het of hy skeef, gebreklik óf afgeskeep was in sy geskapenheid. Hy het verskyn en verdwyn soos Die Skim; ‘n James Bond in ‘n wit pak. Sy joviale afsydigheid het gesorg vir ‘n misterieuse aantrekkingskrag onder die swakker geslag wat in sy teenwoordigheid behoorlik kon degenereer tot jellievisse.

Ek kon my verstom aan die ordentlikheid waarmee hy die soms deursigtige, soms bedekte toenadering  van meisietjies kon afweer. Dis net ‘n blinkgepoleerde man wat in een sin ‘n kompliment kan ontvang, een kan gee en terseldertyd bevestig dat sy voordeur stewig gegrendel  en sy agterdeur glad nie oop is nie. So kom hy op ‘n Vrydagmiddag met ‘n entourage in ewe wit uniforms en met dieselfde afgerondheid op die dorp aan. 

Die dorp se vroueliga was in rep en roer toe hulle by die hotel se buiteverkope instap. Sondigmooie jongmanne vir enige ouderdom vrou met lewendige hormone. As ’n mens nou nie van beter geweet het nie, kon jy hulle aangesien het vir die Chippendales wat op daardie stadium in die land was met hulle verleidelike vertonings.  Nie gatveer na-matrieks nie, maar manne wat al geleef het en duidelike tekens getoon het dat hulle nog steeds op pad was na die kruin van hulle lewewensbrander. Hulle het nog gedein  in die diepsee, getrek en gedu aan die volheid van die lewe. Die strand, waar hulle krone van fosfor sou splits en die adrenalien in hulle toppunte droogvoets in die warm sand van gesinsverantwoordelikheid sou agterbly, was nog ver buite sig. Prinse uit die koninkryk van Neptunes. 

Mooiboetie het verduidelik dat hy die paar Engelsmanne gebring het om hulle vertroud te maak met eg Strandveldse  boerekos. Met die wit uniforms agter kasdeure, begin hulle Vrydagaand met ‘n verskeidenheid van perlemoendisse uit die Inspekter se vrieskas. Die lot val op my – seker omdat ek goed met die Engelse kon kommunikeer - om die volgende aand in Waenhuiskrans se karavaanpark vir hulle te gaan wys hoe ‘n mens potbrood  in die veld maak . 

Op voorwaarde, sê ek, dat  hulle reeds ‘n gat vir die pot gemaak het en so twaalf handpalmgrootte  seeklippe gereed het wanneer ons daar kom. Toe ons net na donker daar aankom, kindertjies in nagklere en op hulle bed agter in die bakkie, brand die manne se stompe warmer as die paar stukke hout op die vuur. Daar was geen gat in die grond of enige klippe om die grondoond mee te bou nie.  Soos wat Bacchus maar maak, het hulle driekwart van hulle ordentlikheid saam met die wit klere uitgetrek en erg begin protesteer toe ek hulle vra om in die veld te gaan klippe soek. Toe hulle dit uiteindelik te voorskyn bring, het ek hulle laat kniel om ‘n gat te grawe.  Vyf seerotte met gekrenkte ego’s rondom ‘n gat in die grond,  was ‘n prentjie om te aanskou. 

Wanneer ‘n mens ‘n potbrood bak wat saam met braaivleis geëet moet word, moet daar samewerking tussen braaier en bakker wees. In hierdie geval was daar nie so-iets nie, want Bacchus was die middelman  en hy verdra geen geregtigheid nie, selfs nie van manne in wit uniforms nie.  Om middernag, moeg gewag vir die braaier, het ek my oond gepak, die swartpot net gerysde deeg ingesit en kole op die deksel gepak. Twee van die Engelse was darem geïnteresseerd, maar of hulle dit die volgende dag sou onthou, het ek aan getwyfel. 

Toe die brood reg was, was daar nog geen vleis op ‘n rooster nie. Met Strandveldse gasvryheid  het ek die potbrood gesny, gebotter en dit vir die Engelse voorgesit saam met ‘n potjie suurvykonfyt.  In die gloed van die kolevuur was Mooiboetie skielik nie meer so mooi nie.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1