Kostuums en Ore Aansit

Dis konserttyd, wat beteken dit is tyd vir kostuums. Maak koop, huur of gladnie.  Daar is so ‘n heerlikheid aan die dra van ‘n kostuum, selfs al is dit net ‘n paar ore op ‘n “alice band” wat ‘n kind in ‘n apie laat verander, of ‘n grootmens in ‘n donkie.  Die verhoog was eweneens vir my nog altyd ‘n lekker plek;  daar waar mens iemand of iets anders kan word as jou vervelige self in die alledaagse lewe.  My eerste verhoogoptrede was op die ouderdom van vier jaar en ek was ‘n wit duif.  Dit was ‘n skoolkonsert en omdat ek nognie in die skool was nie (daar was nie speelgroepies of kleuterskole nie)  is ek vreeslik opgedollie teenoor die res van die skoolgaande duiwe saam met my op die verhoog.  Die woorde van die FAK liedjie beskryf eintlik die vryery tussen twee duiwe, maar in daardie tyd het geen mens hulle gesteur aan die fynere innuendos en nuanses tussen die lirieklyne nie, veral nie as die lied uit die FAK gekom het nie. Hierdie duif-premiére  van my was egter die eerste en laaste  keer wat ek soos ‘n Oscarwenner by die “afterparty” gevoel het.  Vir die res van my skoolloopbaan was dit ‘n gesukkel om in ‘n garderobe te kom volgens die karakter wat ek gespeel het. Daar was eenvoudig net nie geld nie. Terwyl die ander spelers in satyn, net en blinkertjies getooi was, was ek gedrapeer, beplak en verspeld in kreukelpapier. Ek onthou spesifiek een keer toe ons as blommetjies op die verhoog moes oopgaan, stadig en vol geheimenis. Die ligte het verhelder na mate ons wasdom bereik het. Alles was stil in die kerksaal, maar in my eie ore het ek gekraak  soos ‘n eekhoring met ‘n té harde akker. In die laerskool was ek gewoonlik die solis wat die laaste liedjie in ‘n konsertjie gesing het. Nie eens daardie eer het vergoed vir die minderwaardigheid van ‘n harlaboerla kostuum nie. Gelukkig was bo-op die solder ‘n kis vol ou klere, lappe en linne.

Toe ek tien en Sus elf was, het ons daardie kis aangevat. (Dit was na Pappa se dood, want in sy leeftyd was ons nie toegelaat om sonder toesig die houttrap te klim nie.) Saam met Mamma se baie oorskietlappies kon ons koppe bymekaarsit om ook by die volgende konsert ‘n lapkostuum of twee te kon dra. ‘n Mens pas tog net makliker in jou karakter wanneer jy uiterlik so lyk. Hierdie afgelope week het ek vir ons prinsessie ‘n vliegkostuum gemaak. Sy is graad R en die mooiste vlieg suid van die Hebronvlakte. Ouma wou dit vir haar maak omdat Ouma nooit die voorreg gehad het nie. Aanvanklik was sy geensins ingenome met die swart, blink kostuum  nie. Al waarvan sy gehou het was die stukkie sagte, beige kant aan die voorkant wat   voorstel dat hierdie vlieg darem iets goeds doen en stuifmeel ronddra.  In haar onskuld, moet Prinses se vlieg nog in skakerings van pienk en pers wees om mooi te kan wees. Ouma sou so graag wou hê dat al die vlieë in haar lewe vir altyd pienk en pers moet wees, maar ongelukkig wys die lewe mos een of ander tyd sy swart kant ook.

As ‘n vlieg sigbare ore gehad het, kon Ouma dit dalk net gekombineer het met die oë en haar daarmee laat wegkom het, maar ongelukkig gaan sy in haar latere lewe ook deurloop onder baie mense wat vir haar wil ore aansit, veral omdat sy ‘n dogtertjie is. Gelukkig is sy nou al ‘n sterk meisiekind. Sy het reeds ‘n onuitputlike bron van plannetjies en ‘n vlugge verstand wat in pitttige sêgoed na vore kom om vir ander ore aan te sit. Natuurlik werk dit nie met Pappa en Mamma nie, maar sy is minstens paraat. Sy maak haar gereed vir die kostuummense van die lewe wat daarop uit is om haar ore aan te sit. Almal dra tog maar ‘n kostuum , maar nie almal is bereid om dit af te gooi en hulle regte self te ontbloot nie. Ouma reken sy moet maar die swart vlieg kostuum byderhand hou om hulle mee af te skrik!

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1